Dissiplineer Mbalula, sê MK-veterane
2012-10-24 17:50
Durban – Die ANC moet Fikile Mbalula, minister van sport, dissiplineer of hy moet bedank, het die MK-veteranevereniging (MKMVA) in KwaZulu-Natal Woensdag gesê.
"Ons sê die president moenie blameer of gestraf word vir die foute van ander nie. Mbalula moet vasgevat word. Hy is netso swak gedissiplineerd soos sy vriende," het Themba Mavundla, provinsiale voorsitter, gesê.
Mavundla het reageer op 'n berig in The Star vroeër vandeesweek, waar daar gesê is Mbalula moet bedank.
"Indien ons die tipe optrede van lede toelaat, sal die ANC nie nog 100 jaar sien nie."
Volgens die koerant het Mbalula gesê hy het "geen tyd" vir Zuma nie, en het pogings van Zuma-lojaliste om hom te "neutraliseer", verwerp.
"Hulle het na my toe gekom en my 'n posisie aangebied om my te neutraliseer," het hy volgens die dagblad gesê.
"Hulle besef hulle kan nie polities oorleef nie. Hulle oorleef net op grond van korrupsie," het Mbalula gesê.
Hy het berigte dat hy twee weke gelede by Luthuli-huis ingestem het om Zuma te ondersteun, ontken.
"Ek het geen tyd vir Zuma nie. Hy het sy eie probleme geskep. Hy trou elke week."
Mavundla het gesê indien die koerant sy feite verkeerd het, moet die ANC stappe doen teen die koerant.
Die MKMVA het ook opnuut sy steun toegesê vir Zuma as die party se president.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA