Dissipline nodig, meen Phosa
2012-04-07 15:54
Johannesburg – Dissipline, in beide die private en politieke sfeer, is nodig as Suid-Afrika vooruitgang wil maak, het Mathews Phosa, die ANC se tesourier-generaal, Saterdag gesê.
"Ons het vandag in Suid-Afrika dissipline, kohesie en 'n eenvormige visie deur die leiers van ons land nodig oor belangrike sake wat ons vinnig vorentoe kan neem, of wat die land heeltemal kan ontspoor," het hy in 'n toespraak in Atteridgeville, Pretoria, gesê.
Phosa het gepraat by die begrafnis van dr Nkate Philemon Thabo Mamoepa, 'n ANC-aktivis wat Maandag ná 'n lang siekte gesterf het.
Phosa het gesê die 100 jaar oue ANC het sy politieke doel bereik toe hy heerskappy oor die land gekry het, maar dat dit nou nodig is om te verseker dat 'n ekonomiese bevryding volg op 'n politieke bevryding.
Hy het gesê ekonomiese vryheid moet dringend aandag kry deur die skep van werksgeleenthede en geleenthede vir entrepreneurs. Die kleinsake-sektor moet ook bevry word, en 'n breër model van Swart Ekonomiese Bemagtiging moet ontwikkel word.
Phosa het gesê hy beywer hom vir beter vaardighede en opvoeding vir almal.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA