Dis die ekonomie, sê Zuma
2012-02-09 22:57
Fotogalery - GALERY: Staatsrede 2012
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – President Jacob Zuma het gefokus op die ekonomie in sy vierde, en tot op hede die mees gefokusde, staatsrede Donderdag.
Die president het beloof om die regering se plan om infrastruktuur te verbeter uit te brei om groei te stimuleer en meer werke te skep, nadat hy ‘n afname van een persent in werkloosheid aangekondig het.
Hy het egter toegegee dat onaanvaarbare vlakke van werkloosheid, armoede en ongelykheid die land aanhou teister.
“Die drievoudige uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid duur voort, ondanks die vordering wat gemaak is. Afrikane, vroue en die jeug ly die meeste in hierdie uitdaging.”
Hy het in die parlement gesê die regering wil die rol speel van een wat die ekonomie lei om vinniger te groei. Hy het ook stappe aangekondig om mynbou te stimuleer, pad- en spoorweg-infrastrukture op te skerp en uitvoerders by te staan.
“In 2012 en daarna nooi ons die nasie om by die regering aan te sluit in ‘n massiewe poging om infrastruktuur te ontwikkel,” het hy gesê en van die planne uitgestippel.
Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, het gesê dit is ‘n raaisel hoe Zuma beplan om dié planne te befonds, aangesien sy glo die staat beskik oor R300 miljard minder as wat benodig word.
“Dit is net nie duidelik waar die geld vandaan gaan kom nie.”
Helen Zille, DA-leier, het die fokus op ekonomiese groei verwelkom.
Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, het gesê die infrastruktuur-programme sal goed wees vir werkskepping.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA