“Dis als SA-rassiste in AUS se skuld”
2009-09-11 16:04
Johannesburg- Die ANC Jeugliga (ANCYL) blameer nou Suid-Afrikaners wat na Australië geïmmigreer het vir die herrie om Caster Semenya se geslagstoetse.
In ‘n persverklaring wat Vrydag deur die liga uitgegee is, sê hulle dat “al die gerugte uit Australië kom; ‘n plek waar rassistiese Suid-Afrikaners heen vlug omdat hulle nie onder ‘n swart, demokratiese regering wil leef nie.
“Dit is dus duidelik dat die aanvalle op Semenya van dié rassiste afkom wat nie kan glo dat ‘n swart vrou Suid-Afrika se naam hoog dra nie,” het die ANCYL in die verklaring gesê.
Hulle het ook bygevoeg dat die liga nooit sal aanvaar dat Semenya ‘n hermafrodiet is nie. “Daar bestaan in Suid-Afrika en die regdenkende wêreld nie so iets (soos ‘n hermafrodiet) nie.”
Die ANCYL het ook druk op die IAAF geplaas om hulle dadelik van die media-gerugte te distansieer. Hulle het bygevoeg dat daar volgens hulle “nooit wettige mediese toetse op Semenya uitgevoer is nie”.