Dis Div Dubbelpraat
2010-11-06 09:03
Bloemfontein - Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, is uitgevang in ’n dubbelpratery oor sy omstrede uitlating dat die Bokke die moordverdagte Bees Roux ten volle steun.
De Villiers het gister in ’n onderhoud ontken dat hy ooit gesê het dat die Bok-span Bees Roux “ten volle steun”, maar ’n klankgreep met sy oorspronklike woorde bewys die teendeel. Die uitlating het hom byna sy pos gekos.
Hy het dié gewraakte uitlating oor die Bokke se verbintenis tot Roux op ’n nuuskonferensie op 30 Augustus op Shimlapark voor die laaste Drienasiestoets teen die Wallabies in Bloemfontein geuiter, maar nou pak hy die skuld op die media.
In ’n onderhoud gister in die Cape Times gee De Villiers ook te kenne dat ’n joernalis (van Volksblad) eintlik die woorde sou gesê het wat amper sy kop laat rol het en dat hy (De Villiers) nie die een is wat die Roux-kwessie op die nuuskonferensie opgehaal het nie.
“Ek is spyt dat ek koerantverslaggewers vertrou. Hulle is so onakkuraat in hul kommentaar. Dit is nooit wat ek gesê het nie. Dit is heeltemal uit konteks geneem,” sê hy in die artikel.
Volksblad, susterskoerant van Die Burger, se transkripsie van die nuuskonferensie én ’n klankgreep van De Villiers se uitlating, bewys onomwonde die breier het wél gesê die span steun Roux ten volle.
Anders as wat hy nou beweer, het hy uit sy eie – tot verslaggewers se verbasing – na die geval Roux verwys.
Sport24 se joernaliste Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen kan dit bevestig.
Volgens die transkripsie het De Villiers self eerste verwys na die omstandighede wat die span moet hanteer, asook na hoe ’n geval soos die Bees Roux-voorval die span kan raak.
Volksblad het daarna gevra of die span die Bees Roux-geval bespreek het.
Hierop gaan De Villiers (luidens die transkripsie) af oor “vuil mense wat die span probeer afkraak sodat daar nuus kan wees”.
Dan sê hy: “Dis ’n tragiese situasie, ons wens (dit) geen mens (toe) om in so ’n situasie te wees (nie), en ons ondersteun hom ten volle, nie die daad miskien nie, maar hoe dit tot daar gekom het, umm, dis lelik, verstaan.”
Volksblad se berig op 31 Augustus het as volg gelui: “Die Springbokke steun Bees Roux ten volle, hoewel hulle nie die daad ondersteun waarin hy na bewering ’n metropolisieman doodgeslaan het nie, het Peter de Villiers, die afrigter, gesê.”
De Villiers se kop is hierop geëis, maar op grond van sy verduideliking dat hy buite konteks aangehaal is, het hy en sy mede-afrigters, Dick Muir en Gary Gold, hul poste behou.
Volksblad het wel verneem die Bees Roux-kwessie het Saru genoop om mnr. Andy Colquhoun, sy kommunikasiebestuurder, op die huidige Grand Slam-toer te stuur, terwyl die gereelde mediabestuurder van die Bok-span, mnr. Anthony Mackaiser, tuis bly. Die gevoel is dat Mackaiser die sondebok gemaak is vir De Villiers se uitlatings én die span se vrot prestasie in die Drienasies-reeks.
’n Senior lid van die Springbokke se bestuurspan kon nie glo wat De Villiers in die onderhoud oor die Bees Roux-kwessie kwytgeraak het nie.
“Wat meer moet gedoen word om dié ou se mond te snoer?” wou hy weet.
- Die Burger