Dis D-dag vir die DA
2011-10-27 08:02
Kaapstad – Die dag van beslissing het aangebreek vir die DA se parlementêre koukus, wat Donderdagoggend om 09:30 byeenkom om ’n parlementêre leier aan te wys.
Aangesien verkiesings vir verskeie posisies Donderdagoggend beslis word, word verwag dat die stemmery en tellery nie voor 11:00 afgehandel sal wees nie.
Die oë van Suid-Afrikaners van alle politieke oortuigings sal gerig wees op die groot houtdeure van kamer E249 in die parlement se nuwe vleuel, van waar die leier van die opposisie na vore sal tree wanneer die stemme klaar getel is.
Dit gaan een van twee kandidate wees: die huidige parlementêre DA-leier, Athol Trollip, of die party se nasionale woordvoerder, Lindiwe Mazibuko. Met baie van die parlementslede wie se lojaliteite selfs gisteraand veranderlik was, is ’n Kop-aan-kop stryd word verwag.
Teen Woensdagaand was dit onmoontlik om ’n uitslag te voorspel weens die aard van enige groot party se koukusverkiesings, waar belange en beginsels in wisselende mate vir elkeen hul keuse laat maak.
Die stryd tussen Trollip en Mazibuko was die afgelope maand baie fel, met ’n duidelike stylverskil tussen die kandidate.
Trollip het ’n geslote veldtog gevoer waarin hy slegs op koukuslede gefokus het. Mazibuko het ’n ope veldtog gevoer en die kaarte minder teen die bors gehou.
Trollip se ondersteuners voer aan sy ervaring is sy grootste bate en dat hy geen groot foute begaan het wat hom sy posisie behoort te kos nie.
Mazibuko se ondersteuners noem haar intelligensie, welsprekendheid en die opwinding wat sy by kiesers ontlok as noodsaaklikhede vir die DA om te groei en die ANC by die stembus op te dons.
Prominente Trollip-ondersteuners in die koukus het tydens die veldtog nie geskroom om Mazibuko in die openbaar te takel as synde onervare nie. Hulle beweer voorts sy staan te naby aan die DA-leier, Helen Zille.
Mazibuko-ondersteuners het as deel van ’n verbete skoon veldtog Trollip nie in die openbaar gekritiseer nie.
Die kandidate vir ander posisies in vandag se verkiesing toon ’n verdeeldheid in die koukus waarvoor die wenner van die stryd die wysheid van Salomo en die geduld van Job sal benodig om die kloof – wat al twee jaar bestaan – te oorbrug.
Elkeen van die vyf verkose posisies word betwis deur twee kandidate – een wat Mazibuko steun as leier, en een wat Trollip steun.
Die verkiesings is elkeen afsonderlik, so ’n LP wat Trollip steun kan ’n Mazibuko-ondersteunende kandidaat vir enige van die ander posisies steun, en omgekeerd.
Die vyf senior posisies ter sprake is die parlementêre leierskap, die leierskap in die Nasionale Raad van Provinsies, die voorsitter en ondervoorsitter van die koukus, en die adjunk-hoofsweep.
Die nuwe parlementêre leier sal die nuwe hoofsweep nomineer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger