Dirk Prinsloo kry 13 jaar tronkstraf
2010-02-02 08:26
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse voortvlugtige Dirk Prinsloo is 13 jaar tronkstraf in die Baranowitsji-distrikshof opgelê op aanklag van diefstal, aanranding en poging tot bankroof, berig Beeld.
Regter Wasili Petrif het Maandag gesê Prinsloo moet die regskoste van die saak betaal en die slagoffers vir "morele en materiële skade" vergoed.
Prinsloo het ná die uitspraak gesê: "Dit is f–n malligheid".
Hy sê die straf is onregverdig.
"Dit is belaglik. Die hele hofsaak is onregverdig en illustreer die goedkeuring van korrupsie en Stalinisme. Dit skend elke mensereg," het hy gesê.
Hy het gekla omdat hy nie toegelaat was om getuies te roep nie en dat hy nie sy saak in sy moedertaal kon voorberei en voorlê nie. Hy het ook gesê hy is nie 'n kans gegun om getuies te ondervra nie.
"Ek het verwag dat die regter 'n onregverdige uitspraak sal lewer."
Sy laaste woorde voor hy deur die polisie weggeneem is, was: "Ek mis julle [Suid-Afrika] baie.
Prinsloo is op 12 Junie verlede jaar in Belo-Rusland se hoofstad, Minsk, in hegtenis geneem ná ’n mislukte bankrooftog in Baranowitsji, nie ver nie van die woonstel waar hy, sy vriendin en hul jong dogtertjie gebly het.
Prinsloo het in 2006 na Belo-Rusland gevlug om sy verhoor in Suid-Afrika vry te spring.
Sy medebeskuldigde, Cézanne Visser, is in Oktober verlede jaar skuldig bevind op 11 van die 14 seksaanklagte teen haar.
Sy word op 8 Februarie gevonnis.
– Sapa