Dirk Prinsloo eien bewyse in hof
2010-01-28 09:02
Julian Rademeyer en Ilya Kuzniatsou
Baranowitsji (Belo-Rusland). – Die vermeende kinderseksoortreder Dirk Prinsloo se pogings in sy verhoor om twee bankkassiere te kruisondervra wat op 10 Junie verlede jaar teenwoordig was toe hy glo ’n tak van Belorusbank in Baranowitsji probeer beroof het, is telkens deur die hof verwerp.
Vrae oor wanneer Svetlana Ignatowitsj en Valentina Drozd verklarings afgelê het, die kleur van die klapmus wat hy gedra het, hoe sy skoene gelyk het en hoekom hul verklarings en getuienis nie ooreengestem het nie, is herhaaldelik van die hand gewys met ’n streng: “Ek skrap die vraag, want dit het geen betrekking op die saak nie.”
“Ek het al aan jou verduidelik hoe getuienis geëvalueer word en ek gaan jou nie telkens herinner nie,” het regter Wasilij Petrif aan Prinsloo gesê.
Hierop was Prinsloo se reaksie: “Ek sê aan die agbare hof dat ek geen reg op kruisondervraging het nie en ek gaan weer sit. Met groot respek, ek ken kruisondervraging baie goed. Ek weet my vrae het betrekking op die saak, maar ek wil nie konflik met die regter hê nie.”
“Ek gaan nie met jou debatteer nie,” het Petrif hierop gesê.
Die speelgoedpistool, mes, pepersproei, klapmus, ’n swart sak en stewels wat Prinsloo tydens die beweerde bankroofpoging gebruik het, is in verseëlde plastiekwinkelsakke by die hof ingedien. ’n Bebloede bloes van een van die bankwerknemers is ook ingedien.
Petrif het die sakkies met ’n skêr oopgeknip en die artikels daarin opgehou sodat Prinsloo dit kon identifiseer. Prinsloo het elkeen geïdentifiseer as syne, maar beweer dat die klapmus nie gate in gehad het vir ’n mond en neus soos nou nie.
’n Swart vrouelangbroek met ’n soolspoor van Prinsloo se stewels daarop is ook ingedien. Prinsloo het egter gesê die broek is “onnatuurlik skoon” afgesien van die stewel-afdruk daarop.
Bloed- en speekselmonsters van Prinsloo en die slagoffers is ook ingedien.
Die verrigtinge word môre hervat.
- Beeld