Direksie steun skoolhoof 100%
2010-10-17 07:13
Rapport
Die kaalfoto’s van die hoof van ’n private spoghoërskool in Johannesburg wat leerlinge onder mekaar versprei het, is volgens die skool nie onwelvoeglik nie.
Rapport het verlede week berig Gideon van Oudtshoorn, ’n onderwyser aan Helpmekaar Kollege, is geskors oor beweerde afdreiging wat met dié foto’s van die hoof, Klaus König, verband hou.
König wys sy bruingebrande lyf en wit boude vir die kamera en op ’n ander foto poseer hy in ’n Speedo-swembroek.
Prof. Derek van der Merwe, voorsitter van die skool se direksie, het namens die direksie ’n brief aan ouers gestuur om die skool se kant van die saak te stel.
Hy sê daarin ’n onderwyser het König vroeg verlede jaar ingelig dat leerlinge deur die skool se netwerk onregmatig toegang tot vakansiefoto’s van hom gekry het.
Die foto’s is in Desember 2006 tydens ’n private vakansie geneem.
König het opdrag gegee dat toegang tot sy private foto’s onmiddellik gestaak word en dit nie versprei mag word nie. Laasgenoemde was egter nie so maklik nie.
“Omdat die foto’s geensins onwelvoeglik is nie, het hy – tereg – besluit dat die saak geen verdere optrede behoef nie,” lui Van der Merwe se brief aan die ouers.
Van der Merwe het in Januarie vanjaar ’n anonieme faks oor die foto’s en bewerings oor König se bestuurstyl gekry.
Dit is met König en die direksie bespreek en daar is besluit om geen stappe te doen nie.
Op 14 September het twee lede van die direksie egter weer ’n anonieme brief gekry met kritiek oor König se bestuurstyl en drie foto’s was aangeheg.
Dit was volgens Van der Merwe se brief aan ouers dieselfde vakansiefoto’s waartoe kinders verlede jaar onregmatig toegang gekry het.
In die anonieme brief is geëis dat König afgedank word.
Van der Merwe sê op sigwaarde lyk die brief na ’n afdreigingsbrief.
König het regsadvies ingewin en ’n deursoekingsbevel is gekry.
Die direksie het op 22 September besluit die polisie moet beslag lê op ’n onderwyser se elektroniese toerusting by die skool en by sy huis. Dié onderwyser is geskors hangende moontlike tugstappe teen hom.
Van der Merwe sê verder in die brief die direksie het tydens die vergadering van 22 September eenparig sy volle steun aan König uitgespreek.
“Die direksie verwerp anonieme dreigemente as ’n manier om griewe en kwellinge van onderwysers of ouers aan te spreek.”
- Rapport