Dina en Najwa se tronkgedrag bekyk
2011-02-27 12:41
Kaapstad - Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het ’n ondersoek gelas om te bepaal of Dina Rodriguez en Najwa Petersen, albei in die Breërivier-gevangenis by Worcester, onwettig Facebook-profiele uit hul selle bedryf.
Dié ondersoek volg op Rapport se navrae oor die twee se aktiewe profiele wat kan dui op internettoegang in die gevangenis.
Rodriguez dien tans lewenslange tronkstraf uit weens haar betrokkenheid by die huurmoord op baba Jordan Leigh Norton op 15 Junie 2005.
Petersen is vir 28 jaar tronk toe gestuur weens haar betrokkenheid by haar man, Taliep, se huurmoord op 16 Desember 2006.
Albei vroue het honderde Facebook-vriende en lewer blykbaar sporadies kommentaar op die profiele, maar daar kan nog nie met sekerheid gesê word of iemand anders dalk hul profiele bedryf nie.
Volgens Simphiwe Xako, DKD-woordvoerder, het die Breërivier-gevangenis se hoof persoonlik ondersoek ingestel na die moontlik onwettige besit van selfone in die tronk.
Dié ondersoek kom ná berigte in Rapport dat Rodriguez en Petersen glo op hul Facebook-profiele met mekaar en hul vriende “gesels”.
As dit werklik Rodriguez en Petersen is wat die Faceboek-profiele bedryf, sou die aanname wees dat hulle met selfone toegang tot die internet kry.
Volgens Xako het hul soektog geen selfone in die besit van enige gevangene, insluitende Rodriguez en Petersen, opgelewer nie.
Xako sê: “Die DKD se beleid is baie streng. Géén gevangene mag ’n selfoon hê nie. Geen bewaarders mag ’n selfoon in aanhoudingsgebiede hê nie.
“Slegs gevangenes wat studeer, mag toegang tot die internet kry, maar selfs dan is dit onder streng toesig.”
Volgens Xako sal enigeen wat hulle help met onregmatige toegang tot selfone en die internet aangekla word van die oortreding van veiligheidsmaatreëls.
Facebook-profiele:
Petersen se profiel:
Sy het 1081 Facebook-vriende en het volgens haar status “’n oop verhouding”.
Gunstelingfliek: Kill Bill; Assassins
In haar jongste inskrywing (20 Februarie) haal sy die kletsrymer 50 Cent aan: “Ek word wakker en dink is daar regtig ’n hemel of ’n hel? Indien wel, wat gebeur met ’n man wat verander het en in sy sel sterf?
Ook op haar inskrywing oor basiese inligting: “Ek is ’n onskuldige vrou, ’n slagoffer van omstandighede. ’n Ooggegetuie van die ellende van romanse.”
Rodriguez se profiel:
Sy het 920 vriende
Haar laaste inskrywing was op 26 Januarie: “So my vyf minute om die bewaarder se selfoon onwettig te gebruik is oor. Goeienag.”
Gunstelingfliek: Baby Blood
- Rapport