Dikbek Heath wil wraak neem, meen Ngcuka
2011-12-11 07:00
Kaapstad – Adv. Willem Heath is dikbek omdat hy destyds uitgesluit is van die wapenondersoek en hy beskou sy amp as hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) as sy godgegewe reg.
So val adv. Bulelani Ngcuka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, Heath in ’n ope brief aan. Rapport het die brief bekom.
“Vele male het ek stilgebly wanneer buitensporige en skandalige aantygings teen my gemaak is. Tog, omdat die bron van die jongste aantygings eens ’n lid van ons gerespekteerde regbank was, en deur ’n groot deel van ons samelewing as ’n ‘korrupsie-breker’ beskou word, ag ek dit noodsaaklik om nou te reageer,” skryf Ngcuka.
Heath het verlede week in ’n onderhoud met Rapport se susterkoerant City Press, gekap na Ngcuka en sy vrou, oud-adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka, vir hul aandeel in die klagtes van korrupsie en verkragting teen pres. Jacob Zuma.
Heath het aangevoer die aanklagtes was bekook.
Ngcuka sê nou die bewyse waarna Heath in daardie onderhoud verwys het, sal lei tot ’n strafregtelike skuldigbevinding.
“As jy sulke bewyse het, waarom het jy dit in al die jare nog nie nodig geag om ’n formele klag teen my in te dien nie? Kan dit wees dat jy bewyse van kwaaddoenery weerhou het, bloot omdat jy dikbek was oor wat jy as jou ‘uitsluiting’ beskou?”
Volgens Ngcuka beskou Heath die SOE-posisie as sy “godgegewe reg” en kan hy nou op Ngcuka, Ngcuka se vrou en oudpres. Thabo Mbeki “wraak neem”.
Heath het in 2001 as SOE-hoof bedank toe die konstitusionele hof bevind het ’n sittende regter mag nie die amp beklee nie.
Hy kon gevolglik nie die ondersoek na die regering se multimiljardrand-wapentransaksie lei nie.
Intussen het Zuma-gesindes ook begin stem dik maak oor Heath se uitlatings.
Ayanda Dlodlo, adjunkminister in die staatsdiens en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het Saterdag gesê Heath moet “tot orde geroep” word.
“Mense wat betrokke raak by politiekery terwyl hulle in die staatsdiens is, veral in die veiligheidsportefeulje, moet versigtig wees, want dit wek die indruk ons is nie in staat om te bestuur nie,” sê sy.
Jeff Radebe, minister van justisie, het Dinsdag saam met Heath en Nonkululeko Sindane, direkteur-generaal van justisie, vergader om “ten volle te verstaan wat die aard en omstandighede was waaronder die onderhoud (met City Press) plaasgevind het”.
Radebe sal in die komende week aan Zuma terugvoering gee.
Oudpres. Thabo Mbeki het Donderdag sy stilte oor plaaslike politiek verbreek en in ’n sterk bewoorde verklaring geëis Heath moet bewyse vir sy aantygings voorlê. Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gisteroggend gesê Heath se aantygings word ondersoek, maar dit duidelik gestel die uitlatings was in Heath se persoonlike hoedanigheid en nie as SOE-hoof nie.
“Die presidensie en regering het oor die algemeen hoegenaamd niks met mnr. Heath se uitlatings te doen nie,” lui Maharaj se verklaring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport