Diewe toor hulself tronk toe
2010-03-11 23:48
Johannesburg - Twee vermeende diewe wat hulleself glo as towenaars voorgedoen het en 'n vrou beroof het, is vasgetrek.
Die vrou is Donderdag in Maitland, Kaapstad, genader deur 'n man wat beweer het hy is 'n towenaar, het insp. Siyabulela Vukubi van die polisie gesê.
'n Tweede man het verskyn, en die paar het gemaak asof die 'towenaar' geld uit die niet laat verskyn wanneer die tweede man 'n boksie vuurhoutjies koop.
Een van die mans het die vrou oortuig om vuurhoutjies te gaan koop sodat hy dieselfde 'wonderwerk' op haar kon uitoefen.
Hy het haar ook oortuig om haar besittings by hom te los terwyl sy die vuurhoutjies gaan koop.
Toe sy terugkeer, was die paar skoonveld.
'n Ooggetuie het egter gesien hoe die mans in 'n taxi klim. Die polisie is verwittig en het die voertuig agternagesit.
Die mans is kort daarna vasgetrek met die vrou se handsak, beursie, selfoon en 'n pakkie kruideniersware in hulle besit.
Die vermeende diewe, onderskeidelik 48 en 32 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.
- Sapa