Diewe se oë gaan oop vir SA kunswerke
2011-09-04 09:08
Kaapstad – Die diefstal van kunswerke in Suid-Afrika ontaard in ’n winsgewende bedryf.
Die mees onlangse diefstalle is ’n Gregoire Boonzaier wat Donderdag uit ’n lokaal van ’n kuns-en-antiekhandelaar in Pretoria verdwyn het en twee Hugo Naudé-skilderye wat in Julie uit die Hugenote-kunsmuseum in Franschhoek gesteel is.
Die Boonzaier is R85 000 werd en die twee Naudé’s R100 000.
Die diefstal vroeër vanjaar van ’n William Kentridge-werk uit die David Krut-kunsgalery in Johannesburg het ook opspraak gewek. Gordon Massie, besturende direkteur van die kunsversekeraar ArtInsure, het aan Rapport gesê die toename in kunsdiefstal is waarom dié firma die eerste register vir gesteelde kuns in Suid-Afrika opgestel het.
“Dit toon wat weg is, waar dit gesteel is, asook die grootte en ’n beskrywing.
“Ons verskaf egter nie die waarde van die gesteelde artikels nie.
“Hoe sigbaarder die verdwene kunswerke is, hoe swakker is die kans dat dit verkoop word.”
Volgens Massie word dié lys daagliks bygewerk.
“Misdadigers fokus toenemend op kunswerke omdat hulle al hoe meer bewus raak van die waarde daarvan.”
Jeremy Cornelius van Pieter Oosthuizen Antiques & Interiors het Saterdag gesê Distrik Ses (38 x 56 cm), deur Boonzaier, wat Donderdag uit dié handelaar se nuwe lokaal in Hatfield gesteel is, “is ’n duur les”.
’n Dief het die agterkant van die raam oopgesny en die skildery uitgehaal.
“Ons lokaal het pas geopen en ons veiligheidsmaatreëls is nog nie volmaak nie.”
Naudé se La Cotte-skilderye het in die middagetensuur verdwyn toe ’n man glo die enigste besoeker aan die Hugenote-museum was.
Hy het die museum met ’n jas oor sy arm verlaat.
’n Identikit is saamgestel en die polisie ondersoek die saak.
Die Boonzaier is gesteel toe twee mans die winkel besoek het.
Een het die personeellede besig gehou terwyl sy maat deur die winkel gestap het.
Die diefstal is eers Vrydagoggend ontdek.
Volgens Cornelius het hulle die raam wat weggesteek was, gekry.
Hy sê daar is oorsee deesdae ’n baie groter bewussyn van Suid-Afrikaanse kuns.
“Die besef groei dat ons land waardevolle kunstenaars en kunswerke oplewer.”
Cornelius sê die versekering van kunswerke is nie altyd haalbaar nie omdat kunswerke en antieke meubels se versekerde waarde eintlik net 10% van die werklike waarde is.
“Dis baie duur versekering.”
Volgens Cornelius word lyste by ArtInsure en die Vereniging van Antiekhandelaars bygehou.
Sedert die diefstalregister drie maande gelede opgestel is, is 32 werke daarop gelys, waaronder drie van Kentridge.
Massie meen die twee grootste kunsdiefstalsake in Suid-Afrika was die Pierneef-skildery Near Golden Gate, wat in 2006 uit die SAUK-gebou in Johannesburg uit sy raam gesny en in stukke gesny is en ’n Irma Stern-skildery wat einde verlede jaar in Houtbaai gesteel is.
Die Irma Stern is deel van ’n private versameling in Houtbaai en was een van drie wat gesteel is.
Die waarde van die drie werke was sowat R2 miljoen.
Dis binne 24 uur opgespoor.
Die Pierneef-werk is in 2005 uit die SAUK-gebou uit sy raam gesny en Brett Urbasch is later tot agt jaar gevangenisstraf hiervoor gevonnis nadat ’n private speurder, Clarence Badenhorst, die saak ondersoek het.
Die skildery van sowat R4 miljoen – of sy stukke – is steeds soek.
Op sy webwerf sê Badenhorst sowat R25 miljoen se kunswerke word uit die SAUK se gebou vermis, maar die bestuur stel nie daarin belang om dit verder te laat ondersoek nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport