Diewe besteel dierereddingsentrum in Kaap
2012-02-01 16:34
Kaapstad – Inbrekers het verlede week vier keer by die Kaapstadse kantoor van die dierereddingsentrum ingebreek en selfs die veiligheidskamera en geld in blikkies gesteel.
“Hulle het ons leeggesteel. Ons moet alles vervang. Selfs duur kos vir babahondjies met al die voedingswaarde vir wanneer hulle half-dood hier aankom,” het Joy Giovanini, woordvoerder vir die Domestic Animal Rescue Group, aan die Cape Argus gesê.
“Dank God dat geen van die diere beseer is nie.”
Volgens die berig het die inbrekers verlede Maandag by die perseel in Mainstraat in Houtbaai ingebreek en rekenaars, drukkers, ander elektroniese toerusting en geld gesteel.
Twee aande later het hulle by ‘n kleiner kantoor ingebreek en ‘n rekenaar met belangrike databasisse op gesteel. Hulle het Donderdag die kombuis gestroop en het Vrydag teruggekeer om die kamera te steel
Giovanini het gesê kriminele klagtes is ingedien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA