Dienste kan tot stilstand kom
2011-08-15 09:05
Bloemfontein – Munisipale dienste oor die land heen kan vandag tot stilstand kom wanneer lede van die munisipale vakbond Samwu tot ’n staking wil oorgaan.
Dienslewering in elke munisipale gebied kan sodoende erg in die wiele gery word weens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) se gesloer om ’n amptelike salaris-teenaanbod op die onderhandelingstafel te plaas, sê Moses Miya, Vrystaatse sekretaris van Samwu.
Ongeveer 145 000 Samwu-lede in 262 munisipaliteite landwyd begin vandag staak. Sowel Samwu as die vakbond Imatu eis ’n verhoging van 18% of R2 000.
Imatu-lede sal Vrydag begin staak as Salga nie aan hul eise gehoor gee nie, het Simon Riekert, woordvoerder, gesê.
Sowat 70 000 munisipale werkers landwyd behoort aan dié vakbond.
Miya sê die vakbond het Salga in April verwittig hulle wil salarisonderhandelings “heropen”.
Salga en die vakbonde het in 2009 ’n drie jaar skikkingsooreenkoms aangegaan.
Dit behels dat munisipale werkers op 1 Julie 2011 ’n salarisverhoging van die verbruikersprysindeks (VPI) plus 2% kry.
Die vakbonde het Salga op ’n klousule in die ooreenkoms gewys wat voorsiening maak dat onderhandelings hervat kan word as die VPI onder 5% daal of verby die 10%-kerf styg.
Salga se aanvanklike aanbod van 6,8% is eenparig geweier.
Miya sê lede staak veral omdat hul lewensgehalte in die gedrang kom.
“Op die oomblik voel lede hulle het net een wapen oor om die geveg te wen. Dié wapen is ’n staking.”
Hy sê lewenskoste het die hoogte in geskiet.
“Petrol en kos het soveel gestyg. Ons kan nie meer byhou nie.”
Voorts sê hy dis nie onredelik van lede om te staak nie.
“Ons moet veg vir wat reg is. Burgemeesters en raadslede kry belaglike hoë salarisse, maar ons moet met die krummels tevrede wees.”
Hy sê lede sal nie terugkeer werk toe voordats die aanbod op dubbelsyfers staan nie.
Verskeie optogte word in die Vrystaat beplan.
Qondile Khedama, woordvoerder vir die Mangaung-metro, sê die munisipaliteit is bewus van die planne om te staak, maar sal eers vandag kan sien wat die impak daarvan is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad