Diefstal van WWE-sterre by lughawe ondersoek
2011-07-06 17:54
Kaapstad – Die Lughawensmaatskappy (Acsa) werk saam met die polisie sowel as die lugrederye om vas te stel hoe daar met die tasse van die WWE-supersterre gepeuter is en verskeie items verdwyn het, het 'n woordvoerder gesê.
Die groep het Dinsdag in Kaapstad geland vir vertonings in Kaapstad, Durban en Johannesburg.
Die superster Randy Orton het kort ná sy aankoms in Kaapstad op sy Twitterblad geskryf:
"Landed in Capetown a few hours ago. Beautiful here. Too bad over half the roster had various items stolen out of they're checked luggage."
Volgens die webwerf Wrestleview het Orton gesê die slotte wat aan die
sakke was, is afgesny en verskeie items is uit die sakke gesteel.
Deidre Hendricks, woordvoerder van Acsa, het gesê voorvalle van dié aard is altyd baie teleurstellend.
"Ons neem voorvalle van dié aard baie ernstig op. Dit is nie 'n aangename ervaring as daar met jou tasse gepeuter word nie."
Hendricks het gesê ongelukkig word misdade soos dié by lughawens regoor die wêreld aangemeld.
"Tesame met verskeie rolspelers soos lugrederye, hanteringsmaatskappye en die polisie is dit 'n saak wat aandag geniet."
Sy het gesê verskeie maatreëls is in plek gestel om voorvalle soos dié te verminder.
Die sterre is Woensdag- en Donderdagaand by die Grand Arena in Kaapstad te sien, voor hulle vir Vrydag se vertoning na Durban vetrek. Vertonings word Saterdag en Sondag in Johannesburg gehou.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24