'Die staat het my verguis' – Moodley
2012-01-26 14:21
Johannesburg – Donovan Moodley sê oorywerige aanklaers wat nie die bewyse met sy beëdigde verklaring laat ooreenstem het nie, het tot sy verkeerdelike skuldigbevinding gelei.
“Ek was ‘n jong, weerlose man wat deur die gewig van die staat verguis is,” het Moodley Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof gesê.
Hy verteenwoordig homself in sy aansoek om herverhoor te word.
Hy het gesê die verklaring wat hy aanvanklik afgelê het toe hy skuldig gepleit het, was nie deur die polisie-ondersoek bekragtig nie.
“Die publiek glo dat iets wat nooit ondersoek was nie, ondersoek is.”
Moodley het gesê sy huis, insluitend kaste en twee vrieskaste waar hy ‘n lyk kon wegsteek, was nooit deursoek of forensies getoets nie.
Moodley is in 2005 daaraan skuldig bevind dat hy die student Leigh Matthews (21) in Julie 2004 ontvoer en vermoor het. Hy beweer nou hy het nie Matthews vermoor nie.
Hy het Woensdag sy aansoek begin om herverhoor te word.
Moodley het beweer dat brig. Piet Byleveld, ondersoekbeampte in die saak, hom gemartel het en sy mag misbruik het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA