Die water loop ordentlik op Beaufort-Wes
2011-01-02 09:45
Die Gamkarivier by Beaufort-Wes het Saterdag kant en wal geloop nadat ’n donderbui in die bolope van die rivier geval het.
“Dit het Oujaarsdag binne ’n kort tydjie 19 mm gereën,” het Hein Rust, hoof van rampbestuur van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, gister gesê.
“Die bui reën het in die omgewing van die Karoo Nasionale Park uitgesak en die rivier het afgekom.
“Dié reën is anders as die 30 mm wat op 16 Desember geval het. Toe is die sagte reën deur die dor aarde geabsorbeer. Hierdie donderbui het die water laat loop, en dit is wat ons nodig het. Die dorp is afhanklik van 33 boorgate en die reën maak ’n verskil aan die grondwatervlak.”
Volgens Rust ontstaan die donderbuie wanneer die wind die wolke oor die Nuweveldberg waai.
“As die wind suidoos draai, druk dit die wolke teen die berge vas en dan reën dit kwaai.”
Die reën het niks aan die stand van die Gamkadam verander nie.
“As dit nie op die plaas bokant die dam reën nie, loop niks water in die dam nie,” sê Rust.
Die dorp se lot het Suid-Afrika geruk toe nuus van waterrantsoenering en foto’s van die uitgedroogde dam in die media verskyn het.
Dit het Amore Bekker, RSG-aanbieder, geïnspireer om die Bottels vir Beaufort-projek te begin. Motoriste wat deur die dorp reis, word gevra om 5 liter- verseëlde kanne water by drie punte in die dorp af te gee vir verspreiding in gebiede wat deur ’n beurtwaterstelsel geraak word.
Tienduisende 5 liter-kanne water is in die dorp afgelaai sedert die projek afgeskop het.
“Daar is altesame sowat 92 000 5 liter-kanne water in die dorp afgelewer, hetsy deur motoriste op pad na ’n vakansiebestemming of gemeenskappe en instellings wat water met vragmotors of bakkies met sleepwaens aanry.”
Meer as 5 miljoen liter water is ook met tenkwaens, elk met ’n inhoudsmaat van sowat 32 000 liter, na die dorp aangery. Dié water word direk in een van die dorp se opgaardamme gepomp. Dit word outomaties behandel en oorgepomp na die groter opgaardamme, van waar dit versprei word.
“Ons volgende mikpunt is om nog 10 miljoen liter te lewer met tenkwaens wat andersins leeg sou terugloop Kaapstad toe,” sê mnr. Theuns Coetzee van Bonnievale.
Coetzee sê die tenkwaens kom van oraloor. “Die afleweringskoste is sowat R3 500 per voertuig, en mense gee uit hul harte.”