Afrikaanse skole as Engels gelys
2010-12-01 07:43
Beeld
Pretoria - Die hoërskole Uitsig en Silverton in die Tshwane-Suid-onderwysdistrik het gister kapsie gemaak omdat die Gautengse onderwysdepartement hulle onlangs op ’n lys as “Engelse” skole in die Pretoria-omgewing ingedeel het.
’n Interne memorandum het verlede week onder Beeld se aandag gekom waarin Joe Mokhosi, direkteur van dié onderwysdistrik, ’n mandaat van die provinsiale departement gvra het “om enkelmedium-Afrikaanse skole na parallelmediumskole te transformeer”.
Hy het Boy Ngobeni, onderwyshoof in Gauteng, versoek om hom die mag te gee om Engels in Afrikaanse skole in te voer.
Een van die redes wat aangevoer is, is die toename in Engelse leerlinge in die gebied wat ver moet reis om by skole uit te kom wat onderrig in Engels aanbied.
Mokhosi het verskeie Afrikaanse skole gelys waar dié verandering beoog word en wat volgens die departement die kapasiteit het om Engelse leerlinge in te neem.
Hy het ook na sogenaamde Engelse skole op ’n lys verwys wat reeds die oormaat Engelssprekende leerlinge in die distrik moet akkommodeer en waar talle leerlinge ook op A- en B-waglyste geplaas moet word.
Dr. Jan Visagie, hoof van Uitsig, het by navraag gesê sy skool word “foutiewelik” as ’n Engelse skool aangedui.
“Ons was nog nooit ’n Engelse skool nie. Inteendeel, ons is juis baie trots daarop dat ons as parallelmediumskool ’n model is wat illustreer dat daar in ons land uitstekende samewerking tussen die verskillende bevolkingsgroepe bestaan.
“Ons gebruik die feit dat verskeie volke in ons skool tot ’n gelukkige skoolgemeenskap saamgesnoer word baie sterk in ons bemarkingsveldtog.”
Volgens Visagie staan Afrikaans baie sterk by die Hoërskool Uitsig.
Martin Botha, hoof van die Hoërskool Silverton, het ook gesê ’n verkeerde beeld is die wêreld ingestuur dat die skool net Engels is, terwyl dit ’n parallelmediumskool is en steeds klasse in Afrikaans en Engels aanbied.
Die Gautengse hoofkantoor het Mokhosi se memorandum as “nie ’n amptelike dokument nie” bestempel.
Die mandaat wat Mokhosi daarin vra, het vir konsternasie onder beheerliggame gesorg.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê skole moenie toelaat dat amptenare hulle intimideer om hul taal- en toelatingsbeleid te verander nie.
Dit is die bevoegdheid van ’n skool se beheerliggaam.
Volg Nuus24 op Twitter. Kliek hier.