Die prys van 'n plaasaanval
2010-03-17 06:24
Sarel van der Walt, Beeld
Johannesburg - Elke plaasaanval wat tot gevolg het dat ’n boerdery stilstaan, kos die land se ekonomie konserwatief geraam sowat R1,9 miljoen ’n jaar.
Plaasaanvalle het ook ’n baie negatiewe invloed op voedselsekerheid in die land, sowel as die herstel van die ekonomie ná die wêreldwye ekonomiese krisis, het die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) Dinsdag gewaarsku.
As die plaas se produktiwiteit net tydelik beïnvloed word, beloop die verlies aan die bruto nasionale produk (BNP) meer as R160 000 per maand, het die organisasie in ’n verklaring gesê.
Die SAKHN het sy kommer uitgespreek oor die groot aantal plaasaanvalle en -moorde wat in die land voorkom en sê hy sal dit met die regering bespreek.
Minstens twee boere en ’n boervrou het die laaste paar dae in plaasaanvalle gesterf.
Talle boere het die skuld vir die moorde op Julius Malema, ANC-jeugligaleier, gepak nadat hy verlede week op ’n byeenkoms by die Universiteit van Johannesburg gesing het: “Skiet die Boere, hulle is verkragters.”
Tussen 1997 en 2007 is 1 248 moorde landwyd op plase gepleeg. Die meeste van die vermoordes was volgens polisiestatistieke plaaswerkers.
Die SAKHN sê gegrond op die 3,22% wat die landbou in 2009 tot die land se groeisyfer bygedra het en met die 39 982 plase wat daar in 2007 in die land was as grondslag, het hy bereken dat plaasaanvalle die land jaarliks sowat R1 932 869 per geaffekteerde plaas kos.
Die organisasie sê dié syfers is ’n konserwatiewe benadering ten opsigte van die gevolge wat plaasaanvalle op die ekonomie het.
Die grootte van plase en hul produksievermoë is uitgesluit, en die uitwerking van plaasaanvalle op werksekerheid, die plaaslike voedselbedryf, die sektor se vermoë om internasionaal mededingend te wees en die verskillende soorte plase en boerderybedrywe is ook nie in ag geneem nie.
Henk van de Graaf, woordvoerder van TLU SA, het gesê hul berekeninge is so na aan die SAKHN se syfers “dat afwykings so gering is dat dit weglaatbaar is. Daarom kan ons beaam wat hulle in hul verslag sê.”
Die polisie het verlede week aangekondig ’n nuwe, hersiene veiligheidstrategie waarin die klem op sogenaamde sektorpolisiëring - en die betrokkenheid van reserviste - sal val, is van 1 April af van krag.
Die nuwe strategie is daarop gemik om die polisie se dienslewering en sy sigbaarheid in landelike gebiede te verbeter, sy reaksietye te verbeter en beter kommunikasie en groter samewerking in landelike gebiede te bewerkstellig.
- Beeld