Dié Riaan chillax, want dis hoe hy deesdae rol, yo
2011-09-25 07:42
Riaan Cruywagen, Afrikaanse televisie se mees beminde nuusleser, tem aand ná aand die grootste tongknopers voor die kamera sonder om ’n oog te knip.
Maar om vier uur in ’n borrelbad saam met oulike meisies in skrapse swemklere deur te bring is g’n grap nie, sê Cruywagen.

Cruywagen, uitgedos in ’n netjiese pak klere, hemp en das, het in die borrelbad geklim om ’n advertensie te skiet om verlede week se Loerie-toekennings in Kaapstad te bemark.
Cruywagen sê daar was geen gevroetel in die bad nie. “Ons was omring deur ’n filmspan wat alles met arendsoë dopgehou het.
“En ek is oud genoeg om die meisies se oupa te kon wees!”
Die advertensie begin met ’n nabyskoot van Cruywagen waar hy in sy gewone nuusleser-stemtoon vertel hy haat swak advertensies “méér as om ’n sesuurnuus-span in ’n hysbak te kry”.
En dan trek die kamera terug om in ’n wye skoot te wys dat Cruywagen binne-in ’n borrelbad sit met ’n mengeldrankie in die hand, omring deur skoonhede.
Hy gebruik ook SMS-taal soos “OMG” en “wow” eerder as sy gewone, suiwer Afrikaans.

Cruywagen het Vrydag gesê die advertensie was ’n vreemde ervaring.
“Kyk, om byna vier uur lank met ’n pak klere aan in ’n borrelbad te sit is nie my idee van pret nie… al was die bikini-meisies ook hóé mooi. Ofskoon die water redelik warm was met die inklimslag, het dit gou afgekoel. Iemand het kort-kort ’n ketel kookwater kom ingooi, maar dit het nie juis hond haaraf gemaak nie,” vertel hy.
“’n Mens sou verwag het dat agt warm meisies die water op kookpunt sou hou, maar moenie glo nie. Hulle het nét so koud gekry.
“Toe ek daar uitklim, was my vel omtrent verskrompel soos ’n pruimedant. En die pak het omtrent vier groottes gekrimp.”
Andrew Human, uitvoerende hoof van die Loeries, sê: “Die idee was om Riaan uit sy tipiese nuusleser-posisie na ’n onverwagte scenario te vat. En dit het fantasties goed gewerk.”
Minstens 50 000 mense het al na die borrelbad-promosie op YouTube gekyk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport