Die ANC lieg oor nasionalisering, sê TLU-SA
2011-08-04 23:00
Johannesburg – Cosatu se erkenning dat ‘n
ANC-taakspan 'n nasionaliseringsplan en die implementering daarvan bestudeer het,
bewys dat hulle blatant lieg, het die die Transvaalse Landbou-Unie (TLU-SA)
gesê.
“Dit is duidelik dat ons wat die ANC-jeugliga
kwytraak ernstig kan opneem,” het Ben Marais, president van TLU-SA, gesê.
“Nasionalisering is ‘n feit wat deur beide die ANC en Cosatu
ondersteun word en is waarskynlik op die SACP se kommunistiese agenda
geskoei.”
‘n Ekonomis van Cosatu, Chris Malekane, het
Donderdag gesê dat nasionalisering sál plaasvind en dat dit bloot die manier
waarop dié stelsel geïmplementeer gaan word, wat nog ondersoek verg.
Malekane het tydens ‘n debat in Johannesburg
gepraat en die jeugliga aangespoor om nasionalisering hoog op die agenda te
plaas.
“Daar sal vergoeding ten bate van die publiek
wees, maar nie ten koste van die Suid-Afrikaanse staat nie....balans moet
gehandhaaf word,” het Malekane gesê.
Hy het bygevoeg dat grond ‘n natuurlike bate
is, maar dat die staat dit besit en dat boere dit moet bewerk.
Geen vergoeding behoort vir grond gegee te word
nie, het Malekane tydens die debat gesê.
In
reaksie hierop het Marais gesê dat sonder vergoeding, boere “geteiken en
vernietig” word.
“Is dit die rede hoekom niks aan plaasmoorde
gedoen word nie?” het Marais gevra.
“Is elke boer wat doodgemaak word een minder
probleem om te hanteer?”
TLU-SA het ‘n beroep op landbou- en
besigheidsorganisasies gedoen om die betrokke partye se belange teen die
bedreiging van nasionalisering te beskerm.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA