Diamante op kapers gevind
2009-09-16 21:30
Bloemfontein -'n Groot aantal ongepoleerde diamante is op drie mans gevind nadat hulle 'n taxi in Bloemfontein gekaap het.
Sers. Muifha Tshifhiwa, polisiewoordvoerder, het gesê drie mans wat hulle as pendelaars voorgedoen het, het 'n taxi in Bergman Square in Bloemfontein gestop.
"Die mans het in die taxi geklim en die bestuurder van die taxi na die pasassiersitplek gedwing."
Die kapers het toe in die rigting van Ladybrand gery toe 'n band van die taxi pap raak.
Die bestuurder van die taxi het ontsnap terwyl die trio besig was om die band om te ruil en die voorval by die Tweespruit-polisiekantoor aangemeld.
Die mans is kort daarna by 'n polisiepadblokkade in hegtenis geneem.
– Sapa