Dewani-verhoor: Simkaart was in moordenaar se selfoon
2012-10-08 18:01
Kaapstad – Die simkaart van 'n man wat betrek word by die moord op Anni Dewani was in die selfoon van een van haar veroordeelde moordenaars, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag gehoor.
Petro Heyneke, 'n forensiese deskundige van Vodacom, het gesê telefoonrekords toon dat Xolile Mngeni se simkaart om 09:03 op 14 November, 2010 in Zola Tonga se Nokia E90-selfoon gebruik is.
Sy het getuig dat die simkaart om 08:47 in die selfoon geplaas is, en dat die aktiwiteit as 'n internetverbinding aangeteken is. Die aktiwiteit is deur 'n selfoontoring in Khayelitsha geregistreer.
Mngeni, 25, pleit nie skuldig nie op aanklagte van kaping, roof en die moord op Dewani in Guguletu op 13 November, 2010.
Tongo het as taxibestuurder gewerk vir Dewani en haar man, Shrien, terwyl hulle op hul wittebrood in die land was. Tongo is 18 jaar tronkstraf opgelê as deel van 'n pleitooreenkoms. Hy het in sy verklaring beweer dat Shrien die moord op sy vrou gereël het.
Sy selfoon is as deel van die kaping afgeneem en hy is uit die voertuig gegooi.
Heyneke het gesê die laaste aktiwiteit op Tongo se selfoon was 'n inkomende oproep om 22:53 op die aand wat Dewani vermoor is.
Die selfoonnommer was tot 16:00 die volgende dag nie beskikbaar nie.
"'n Nuwe simkaart is om 17:13 [op 14 November] uitgereik, [en] die gebruiker het die sim uitgeruil. Die simkaart is ook in 'n nuwe foon geplaas."
Die nuwe simkaart was tot 25 November daardie jaar in gebruik.
Die hof het Maandag na getuienis geluister wat verband hou met 'n hotelwerker wat glo as middelman in die beweerde moordkomplot gedien het.
Die middelman se identiteit word kragtens 'n hofbevel beskerm.
Heyneke het gesê verskeie oproepe is gemaak tussen die middelman se telefoonnommer en Mziwamadoda Qwabe, wat vir 25 jaar tronk toe gestuur is vir sy rol in die moord.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA