Dewani-uitleweringsverhoor uitgestel
2011-12-14 23:02
Londen – Die voorsiening van psigoterapie in Suid-Afrikaanse tronke was die fokus van die moordverdagte Shrien Dewani se uitleweringsverhoor Woensdag in die Britse hoër hof in Londen.
Dewani word daarvan beskuldig dat hy die huurmoord van sy vrou, Anni Dewani, in November verlede jaar tydens hul wittebrood in Kaapstad, beplan het.
Die Britse besigheidsman ontken enige betrokkenheid by die moord.
Dewani se regspan het die kwaliteit van die gesondheidsorg wat hy sal ontvang as hy in Suid-Afrika verhoor moet word, tydens die uitleweringsverhoor bevraagteken.
Sy prokureurs sê Dewani se geestestoestand sal versleg as hy uitgelewer word.
Aanklaers het die regter egter verseker dat Dewani gereeld deur 'n psigiater besoek sal word.
Hulle het bygevoeg dat verdere psigoterapie deur 'n privaatpraktyk toegelaat sal word.
Die verhoor is tot Vrydag verdaag wanneer dokumente oor Dewani se huidige geestestoestand aan die regter oorhandig sal word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA