Dewani se uitlewering goedgekeur
2011-09-28 15:54
Johannesburg – Die Britse minister van binnelandse sake het ‘n uitleweringsbevel vir Shrien Dewani om in Suid-Afrika verhoor te word vir die moord op sy vrou, Anni, onderteken, het die Nasionale Vervolgingsgesag Woensdag gesê.
“Dewani sal 14 dae hê om kennis van appèl te gee, indien hy daarop sou besluit,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, gesê.
Die Britse departement van binnelandse sake sal ‘n kopie van die uitleweringsbevel aan die Hoë Kommissie stuur vir oorlewering aan Suid-Afrika.
‘n Londense regter het op 10 Augustus beslis Dewani kan aan Suid-Afrika uitgelewer word.
Hy word daarvan beskuldig dat hy die moord op sy vrou gekoördineer het terwyl hulle met hul wittebrood verlede November in Kaapstad was. Hy beweer hulle is gekaap.
Met sy terugkeer na die VK is hy in ‘n fasiliteit opgeneem om vir post-traumatiese stres behandel te word. Sy verdediging het ook gesê hy is te siek om te reis.
Xolile Wellington Mngeni, Mziwamadoda Lennox Qwabe, die taxibestuurder Zola Robert Tongo en Monde Mbolombo is almal tydens die ondersoek in hegtenis geneem.
Tongo dien reeds gevangenisstraf uit ná hy ‘n pleitooreenkoms aangegaan, getuig het en gevonnis is.
Mbolombo het staatsgetuie geword en sal getuig in die verhoor van Mngeni en Qwabe.
- Volg Nuus24 op Twitter