Dewani-saak: Vrae oor video van verklaring
2012-09-10 19:20
Kaapstad – Dis moontlik dat daar met 'n video-opname van 'n beskuldigde wat 'n bekentenis maak in verband met die moord op Anni Dewani, gepeuter is, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag gehoor.
Xolile Mngeni het aan sy regsverteenwoordiger gesê 'n video-opname van hom wat in Bellville op die aand van 16 November 2010 gemaak is, is verskeie kere onderbreek en gestop terwyl mense die kamer binnegegaan en verlaat het.
Qalisile Dayimani het namens Mngeni gesê dit is dus moontlik dat daar met die video gepeuter kon word.
Regter Robert Henney het gevra waarom Dayimani nie voorheen na die kwessie verwys het nie.
Die hof is besig met 'n verhoor binne 'n verhoor om te bepaal of die staat 'n verklaring wat voorheen deur Mngeni by die polisie afgelê is, as bewys kan gebruik.
Dewani is op 13 November 2010 in Guguletu doodgeskiet in 'n beweerde kaping terwyl sy in die land op haar wittebrood was saam met haar verloofde, Shrien.
Mngeni het onskuldig gepleit op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Die staat wou die bekentenis later in die saak gebruik, maar die verdediging beweer Mngeni is aangerand tydens sy ondervraging. Hy is na bewering ook deur die polisie voorgesê wat hy moet sê, en versoeke om 'n regsverteenwoordiger te hê is geïgnoreer.
Die video wys hoe Mngeni instem om 'n verklaring af te lê by kapt. Adolf Jonker.
Mngeni sê in die video aan Jonker hy is "net 'n bietjie bang vir die ander ou, die een wat dit gedoen het".
Wanneer dit lyk of hy huiwer om sy verklaring af te lê, sê Jonker herhaaldelik die opname kan gestop word tot Mngeni met 'n regsverteenwoordiger gepraat het.
Mngeni sê ná hy lank oor die saak dink: "Ek kan nou 'n verklaring aflê, [en] dan kan ek 'n prokureur kry want 'n prokureur [nou] gaan dinge net vertraag."
In 'n stadium word Mngeni gevra om sy hemp uit te trek sodat Jonker kan sien of hy aangerand is.
Mngeni trek sy hemp uit en geen sigbare merke kan op sy bors of arms gesien word nie. Daar is ook geen sigbare merke wanneer hy omdraai om sy rug te wys nie.
Jonker herinner dan die beskuldigde dat hy beskerming kan kry as hy bedreig voel.
Henney het Mngeni se regsverteenwoordiger gekritiseer omdat hy herhaaldelik met nuwe bewerings vorendag kom.
Die saak is tot Dinsdag uitgestel. Dayimani moet die video bestudeer om te bepaal of daar enige tydgapings of of leidrade is wat daarop dui dat daar met die video gepeuter is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA