'Dewani kan in SA behandel word'
2012-04-23 09:16
Johannesburg – Die moordbeskuldigde Shrien Dewani moet in Suid-Afrika behandel word vir sy sielkundige versteuring, het die oom van sy vermoorde vrou, Anni Dewani, volgens ‘n berig Maandag gesê.
“As Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns iemand met ‘n breingewas kan help, dan verdien hulle ‘n kans om iemand te help wat aan post-traumatiese stressindroom ly,” het Ashok Hindocha gesê.
“As hulle ‘n breingewas kan behandel, kan hulle iemand behandel met sielkundige probleme,” het Hindocha aan The Star gesê.
Suid-Afrika wil die sakeman Shrien Dewani uit Engeland laat uitlewer om verhoor te word vir Anni se moord.
‘n Bevel vir sy uitlewering is in September deur Brittanje se minister van binnelandse sake geteken, maar die Britse hooggeregshof het die uitlewering tydelik uitgestel op grond van Dewani se geestesgesondheid.
Hy sal aan Suid-Afrika uitgelewer word sodra sy gesondheidstoestand verbeter.
Anni (28) is doodgeskiet in ‘n beweerde motorkaping terwyl sy en Dewani in November 2010 op hul wittebrood in Suid-Afrika was.
‘n Kaapse hof het verlede week gehoor dat een van Dewani se mede-beskuldigdes, Xolile Mngeni, nie sielkundig geskik is om verhoor te word nie as gevolg van ‘n breingewas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA