Dewani is níé verkrag
2012-10-10 17:00
Kaapstad – Anni Dewani se kapers het haar nie verkrag of seksueel aangerand nie, het die stad se hooggeregshof gehoor.
“Ek kon niks mikroskopies vind nie. Haar onderklere was heel... Daar was geen bewyse van interne of eksterne [seksuele] beserings nie,” het Janette Verster, ‘n patoloog, in die hof getuig.
Vier kneusplekke is aan die binnekant van die toeris se linkerbeen gevind.
Verster sê die kneusplekke was sirkelvormig en na aan mekaar. Sy sê dit lyk asof vingerpunte dié kneuse veroorsaak het.
Merke is ook onder die oorledene se linkerknie, aan die buitekant van die been, opgemerk.
Die patoloog het in Xolile Mngeni (25) se moordverhoor getuig. Hy word daarvan aangekla dat hy Dewani op 13 November 2010 in Gugulethu gekaap, beroof en vermoor het.
Mngeni het onskuldig gepleit op al dié aanklagte teen hom.
Verster het vroeër gesê sy het die dag ná die moord die nadoodse ondersoek uitgevoer en ook die toneel besoek.
Sy sê die slagoffer het weens ‘n enkele skietwond gesterf en in ‘n verdedigende posisie gesit voordat sy op ‘n baie kort afstand geskiet is.
Volgens die patoloog die oorledene op die toneel op haar regterkant op die agterste sitplek gelê. Albei haar hande was onder haar ken ingedruk.
Sy sê dit het gelyk asof die oorledene haar linkerarm en skouer naby haar nek opgehou het voordat ‘n skoot afgevuur is.
Verster sê die loop van die vuurwapen was moontlik 5 tot 10 cm van die slagoffer af.
Volgens die nadoodse ondersoek het ‘n koeël deur haar linkerhand, naby die duim, gegaan en die agterkant van haar laat verlaat. Daarna het die koeël die vel tussen haar bors en linkerskouer geskuur, voordat dit die linkerkant van haar nek binnegegaan het.
Die patoloog sê die koeël het twee vaskulêre are (are wat bloed na en van die kop vervoer) beskadig en die ruggraat deurgedring voordat dit haar rug verlaat het.
Die verhoor duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA