Deurbraak verwag in weeskinders se moordsaak
2012-09-25 13:05
Johannesburg – Speurders hoop om binnekort 'n verdagte in hegtenis te neem in verband met die moord op drie kinders in Mookgopong, naby Modimolle in Limpopo, het die polisie Dinsdag gesê.
"Die proses toon goeie vordering. Ons is besig om alle leidrade op te volg en hoop om binnekort 'n inhegtenisneming te maak," het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Die twee broers, Bafana Kekana (9) en Hosea Richard Kekana (10), asook hul niggie, Johana Kekana (12), is op 18 Augustus in Mokgopong, voorheen Naboomspruit, dood gevind.
Hulle is met klippe doodgegooi. Bebloede klippe, wat met 'n kombers en boomtakke toegemaak is, is naby hul lyke gevind.
Die kinders het nog hul skooluniforms aangehad. Hulle hande en voete was met veters vasgebind.
Die meisie, Johana, is verkrag voor sy vermoor is.
Hulle was laas op 15 Augustus gesien tydens 'n betoging by hul skool Dikobo-laerskool. Hulle het by die Montadi-jeugsorgsentrum gewoon.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA