Derde verdagte vas ná moord op gesin
2011-10-11 16:46
Johannesburg – 'n Derde man is in Orange Farm in hegtenis geneem in verband met die moord op 'n gesin van Walkerville, Gauteng, het die polisie Dinsdag gesê.
"Die derde verdagte (23) is Maandagaand in Poortjie in Orange Farm in hegtenis geneem," het lt.kol. Lungelo Dlamini gesê.
'n Pistool wat aan die gesin behoort is in die man se besit gevind, het Dlamini gesê.
"Sy vriendin, wat saam met hom gevind is, word ondervra."
Die man verskyn Donderdag in die Vereeniging-landdroshof op aanklagte van moord, verkragting en roof.
Sipho Mbhele en Siphiwe Motaung (albei 20) is verlede week in verband met die moord in hegtenis geneem. Hulle het Vrydag in die Vereeniging-landdroshof verskyn en die saak is tot 28 Oktober uitgestel.
Die gesin is op 1 Oktober in hul huis in Walkerville doodgeskiet.
Die lyk van Giraldine Vaina (46) is in die hoofslaapkamer gevind, terwyl haar man, Tony Vaina (50), in die voorkamer doodgeskiet is. Hy is op sy maag gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is.
Amaro Vaina (13) se lyk is in die bad gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is. Hy was 'n gr.7-leerder aan die Linmeyer Primêre Skool.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA