Derde van skoolseuns gebruik steroïde; hoofde tjoepstil
2011-06-05 08:00
René-Jean van der Berg en Hanri Wondergem
Johannesburg - Ja, hy verkoop onwettig steroïede aan kinders.
So het Rodney*, ’n spiertier en ’n selferkende steroïedesmous, die afgelope week aan Rapport erken.
Dit was verspot maklik om Rodney op te spoor. Rapport het bloot buite die eerste die beste gimnasium aan die Wes-Rand van Johannesburg gestop en ’n persoon wat pas klaar geoefen het, gevra hoe om steroïede te bekom. Die persoon het geantwoord dat ons bloot na binne moes gaan en vir Rodney moes vra.
Rodney het oop en bloot met ons gepraat terwyl ander lede van die gimnasium rondom hom geoefen het – en ons daarna toegelaat om foto’s te neem in die gimnasium se kleedkamer terwyl hy steroïede in een van sy kliënte se boud ingespuit het.
“Ja, ek sal kinders help. Ek het ’n paar van hulle, maar slegs as hul ouers betrokke is. Dit is duur en die ouers moet weet hul kinders gebruik dit.
“Dis beter om vir duur, goeie roids te betaal as om die vuilgoed op straat te koop,” sê Rodney.
Maar wat van die newe-effekte van roids?
“Al daai str**t wat almal van roids sê, is bull ****. Vra maar my cherrie. Sý is baie happy,” antwoord hy terwyl hy aanhou oefen. Steroïede en spierbou is vir hom soos brood en botter.
“Jy kan vyf jaar lank gym en R2 000 se aanvullers gebruik en net 30% resultate hê. Óf jy kan R2 000 se roids gebruik en 500% resultate binne wéke hê.”
Sy gesig, tussen sy twee bultende skouers, is ál liggaamsdeel wat nie oortrek is van tatoeëermerke nie.
“Testosterone, Sustanon, Dianabol, Winstol …” noem hy die name op van die middels wat hy onwettig verkoop. Bedags is hy ’n steroïede-handelaar en spierbou-instrukteur en snags ’n uitsmyter by ’n nagklub.
Sy kliënte kom van oral, selfs Zimbabwe.
Die 30-jarige Rodney sê hy is al 15 jaar in die game van spiere, maar spuit net die laaste 10 jaar. Hy het die steroïede begin gebruik toe hy besef het oefen en wettige aanvullings wat sonder voorskrif gekoop kan word, help nie.
Nou kry hy by sy verskaffer produkte van Europa en smous dit ook aan ander.
Rodney sê hy verskaf nie sommer net aan enigiemand nie.
“Jy moet eers ’n dokter gaan sien om seker te maak jou hart en liggaam kan dit vat. Dan moet ek kan sien jy is dedicated en bereid om hard te werk. Dit is nie net van spuit en daar het jy spiere nie. En dan moet jy elke drie maande jou liggaam skoonmaak.”
’n Jonger man met bloederige aknee staan nader. Ja, hy is ’n gebruiker, sê Jay Vermeulen*, ’n tipe I-diabeet en ’n instrukteur by ’n gesogte gimnasium. Hy spog hy het 8?kg in drie weke opgetel danksy steroïede.
“F*k ja. Dit doen sielkundig baie vir my. Ek was moeg van klein wees,” sê hy voordat ons hom na die kleedkamer vergesel waar hy sy boude ontbloot sodat Rodney hom met ’n dosis roids kan inspuit.
* Skuilname is gebruik.
***
Minstens 30% van die seuns in vyf Johannesburgse skole wat in ’n onlangse studie ondervra is, het bevestig dat hulle “gereeld” steroïede en ander verbode middels gebruik.
’n Verdere 84% het erken hulle ervaar “groot druk” om sulke middels te gebruik om beter op die sportveld te presteer.
Dít is bevind in ’n studie wat in Februarie vanjaar gedoen is onder leiding van prof. Demitri Constantinou van die Universiteit van die Witwatersrand se departement sport-en-gesondheidswetenskap.
Die navorsingspan het 20 seuns van 15 tot 18 jaar oud by elk van die vyf skole ondervra. Enkele seuns wou nie die vraag oor steroïede-gebruik beantwoord nie.
Constantinou se navorsing is nog nie amptelik gepubliseer nie.
Baie van die seuns wat bevestig het hulle gebruik verbode middels, het boonop gesê hul sportafrigters weet daarvan.
Anaboliese steroïede (soos testosteroon) is die gewildste. Groeihormone, insulien, adrenalien en efedrien word ook gebruik. Die middels mag net met ’n doktersvoorskrif oor die toonbank gekoop word en is boonop verbode in sport.
Rapport het egter in ’n ondersoek die afgelope week sonder moeite smouse opgespoor wat dié middels onwettig aan skoolkinders en hul ouers verkoop, asook ’n jong man wat die middels op skool saam met “die helfte van my matriekmaats” gebruik het.
Anaboliese steroïede word voorgeskryf om hormoonwanbalanse, outo-immuunsiektes en sekere kankers te behandel. In sport help dit om spiermassa te bou.
Ander hormone soos adrenalien, insulien, efedrien en groeihormone word ook gebruik om spierkrag en uithouvermoë te verbeter.
Dr. Org Strauss, ’n sportgeneeskundige van Pretoria, het aan Rapport gesê: “Ouers en afrigters moedig dikwels die gebruik van verbode middels deur kinders aan.”
Rapport het talle skole in land genader oor die gebruik van verbode middels deur kinders. Slegs één skoolhoof, in Bloemfontein, het erken daar was al so ’n voorval in sy skool.
Gimnasiums word uitgewys as die plek waar die meeste onwettige handel in steroïede plaasvind.
Me. Kim Webster, woordvoerder van Virgin Active in Suid-Afrika, sê: “Sou ’n lid van Virgin Active betrap word met steroïede, word die lidmaatskap onmiddellik beëindig en daar kan strafregtelike klagte ingedien word.”
Die onwettige smouse kan tot tien jaar tronkstraf kry ingevolge die medisynewet. Nogtans het Rapport tydens sy ondersoek gehoor: “Jy kry dit by enige gimnasium … As jy dit soek, gaan jy dit kry. Maklik.”
Prof. Roy Jobson, ’n dosent in farmakologie aan die Rhodes-universiteit, sê dit is die gesondheidsdepartement en die polisie se plig om die onwettige handel in en besit van geskeduleerde medisyne hok te slaan.
“Ongelukkig sal ’n saak soos dié nie sonder genoeg bewyse voor die hof kom nie. Ek is ook nie bewus dat daar al ooit in dié verband strafregtelik opgetree is nie.”
Kol. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê mense wat onwettig in besit is van geskeduleerde middels kan aangekla word, maar hy is nie bewus van enige spesiale veldtogte om die gebruik van steroïede te bekamp nie.
“Dit is makliker om verbode dwelms soos dagga en kokaïen te polisieer.”
Die Medisynebeheerraad sê hulle weet steroïede word onwettig verkoop, “maar doen alles moontlik om dit te verhoed”.
Die Sunday Times het verlede week berig oor nóg ’n verslag, deur die Johannesburgse maatskappy Drug Detection International, waarin onthul is dat 21 uit 130 seuns in Gautengse en KwaZulu-Natalse spogskole positief getoets het vir verbode middels.
***
Hy sal nooit iemand jonger as 21 jaar aanraai om steroïede te gebruik nie, “want dis soos ’n wêreld van gemors in ’n jong kind se lyf”.
So sê ’n 32-jarige man van Noordwes wat dié middels al sowat tien jaar lank gebruik. “Jong mense moet nog eers ontwikkel.”
Hy sê hy het steroïede begin gebruik omdat hy “geneties ’n klein outjie was en groter wou word”.
Hy bestel sy steroïede van ’n dealer. Maar in die gimnasiums is daar manne wat enigiets aan enigiemand sal verkoop – ook aan kinders, vertel hy. “As jy dit wil hê, sal jy dit kry.”
Ander gebruikers versin weer wolhaarstories om hul produkte op voorskrif van medici te kry, “maar ek bly by die dealer wat ek vertrou”.
Sommige gimnasiums laat geslote kringtelevisiekameras installeer om die handel in steroïede te keer, maar dit help nie. “Dit keer niemand om buite in die parkeerterrein of iewers anders te gaan koop nie.”
Volgens hom bestee hy maandeliks tussen R2 000 en R8 000 op dié middels. “Hoe langer jy dit gebruik, hoe meer het jy nodig.”
Sy vrou weet glo wat hy doen. Hy ervaar geen newe-effekte nie omdat hy deeglik navorsing doen voordat hy ’n spesifieke middel gebruik.
“Jy kan dit met jou kop gebruik – veilige dosisse oor ’n veilige tydperk – en dan vir tydperke ophou. Of jy kan dit met jou beursie gebruik en dan dood neerslaan.”
Aanvanklik het hy tablette gedrink en homself ingespuit. Die tablette werk glo vinniger as die inspuitings, maar word gouer deur jou liggaam uitgeskei.
Hy gebruik net spuitmiddels met ’n oliebasis. “Inspuitings met ’n waterbasis laat jou water terughou. Dan swel jy op, maar bou geen spiermassa nie.”
Aanvanklik het hy 150mg per week gebruik, maar nou gebruik hy tot 2 000mg per week, na gelang van die kursus wat hy volg.
Daar is duisende produkte op die mark.
“Ek gebruik Biodecka, Sustanon en groeihormone, maar bly weg van ’Roid Raids omdat dit aggressie veroorsaak. Jy raak nie verslaaf aan die produk nie, jy raak verslaaf aan die effek daarvan,” sê hy.
***
“Ja, ek én die helfte van my matriekvriende het dit gebruik,” bieg ’n 21-jarige man die afgelope week teenoor Rapport oor die gebruik van steroïede deur hom en sy skoolmaats.
“Maar ons gesprekkie bly anoniem,” sê hy.
Hy en sy maats het drie jaar gelede gematrikuleer. Hy draai nie doekies om oor hoekom hulle – volgens hom veral rugbyspelers – dié middels gebruik het nie.
“Dit maak basies ’n masjien van jou,” verduidelik hy. En dit is glad nie moeilik vir skoolkinders om die middels in die hande te kry nie.
“Jy praat net met die eerste groot ou wat jy in enige gym sien.”
Die gewildste steroïede onder dié skoolseuns was volgens hom Deca-Durabolin (R750 vir ses ampules); Sustanon (R750 vir ses ampules); Dynabolts (R450 vir 100 pille) en Winstrol (R650 vir 100 pille).
Hy sê sommige van die seuns se ouers was bewus van wat hulle doen, “maar party ouens doen dit skelm”.
Hulle was bewus van die moontlikheid van skadelike newe-effekte, maar – soos die meeste gebruikers – het hulle geglo hulle kan dit vermy “solank ons dit reg gebruik”.
“Anyway, toe die skool uitvind, word al die rugbyspelers wat dit gebruik het, geskors van rugby vir die res van die jaar.”
- Rapport