Dept 'tevrede' oor Afrikaans
2009-10-15 10:43
Johannesburg- Die departement van basiese onderwys het Donderdag die besluit van die konstitusionele hof verwelkom wat bestuursliggame weer in beheer sit.
“Die beslissing deur die hof beklemtoon die belangrike rol wat ‘n bestuursliggaam speel. Dit is belangrik om te besef dat elke skool in hulle eie gemeenskap is met hulle eie behoeftes,” het die departement in ‘n verklaring gesê.
“Die hof erken dus dat die bestuursliggaam weet wat die gemeenskap benodig en hoe om dit te voorsien.”
Die departement het gesê dat hulle die beslissing aanvaar en dat hulle teen 16 November ‘n verslag aan die hof moet oorhandig waarin hulle die kwessie van oorvol skole aanspreek.
Die hof het Woensdag beslis dat Mpumalanga se departement van onderwys onwettig opgetree het toe hulle die Hoërskool Ermelo gedwing het om sy taalbeleid te verander.
Die hof het egter die skool se bestuursliggaam opdrag gegee om sy taalbeleid te hersien.
Mpumalanga se departement van onderwys het in Augustus by die hooggeregshof aansoek gedoen om appèl aan te teken teen ‘n beslissing dat Hoërskool Ermelo kan terugkeer na onderrig in Afrikaans.
Die appèlhof in Bloemfontein het in Maart bepaal dat die skool se bestuursliggaam, en nie die onderwysdepartement nie, die mag het om die taalbeleid by ‘n skool te bepaal.
–Sapa