Departement verdedig minister se verblyf
2011-11-03 11:10
Johannesburg – Die departement van vervoer het gesê 'n berig oor minister S'bu Ndebele se verblyf in 'n luukse Johannesburgse hotel is verkeerd en misleidend.
"Die berig het die indruk geskep dat die minister die belastingbetaler se geld verkwis het," het Tiyani Rikhotso, woordvoerder, gesê.
Beeld het 'n antwoord op 'n parlementêre vraag, sowel as Rikhotso, wat gesê het die inligting is verkeerd, aangehaal.
Volgens die berig het Ndebele tussen September en Oktober verlede jaar 25 dae aaneen in die Hyatt Regency-hotel in Johannesburg gewoon. Die totale rekening vir dié tyd, wat die gebruik van chauffeurdienste van R70 00 insluit, was R190 000.
Rikhotso het Woensdag gesê Ndebele het in dieselfde twee maande eintlik 'n amptelike besoek aan Kanada afgelê, waar hy 11 dae by die Hyatt Regency-hotel gewoon het.
"Ek het nie nou die bedrag van daardie uitgawe nie, maar die geld wat Ndebele op die reis spandeer het, is baie minder as wat berig is."
Rikhotso het aan Beeld gesê die minister het nie chauffeurdienste gebruik toe hy in Suid-Afrika was nie, en dat hy nie in 'n hotel sou woon indien enige van sy twee ampswonings in Pretoria en Kaapstad beskikbaar was nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA