Dele van SA afgesny weens vloede
2011-01-16 07:38
René-Jean van der Berg, Johan Eybers en Jamey Thomas
Kaapstad - Helikopters is gister ingespan om mense op eilande in die Oranjerivier in veiligheid te bring en om kos en medisyne te voorsien aan huishoudings wat deur vloedwater van die buitewêreld afgesny is.
Groot skade is aangerig aan infrastruktuur in oewergemeenskappe van Upington tot Kakamas en op plase.
Minstens 32 mense het reeds gesterf weens die swaar reën die afgelope twee weke in Suid-Afrika.
Die vlak van die Oranjerivier het teen gister met meer as 7 m gestyg. Talle huishoudings sal na verwagting nog so lank as twee weke deur die water vasgekeer wees terwyl hulle wag dat die watervlak daal.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku dat nog lewensbedreigende vloede vandeesweek in laagliggende dele van die land kan voorkom.
En onheilspellende nuus in Gauteng is dat suur ondergrondse mynwater nou vinniger as vantevore na die oppervlak styg omdat die ondergrondse watertafel styg weens die swaar reën en vloede wat die land die laaste paar weke teister.
Edna Molewa, minister van waterwese, het veral gemeenskappe naby damme en riviere gemaan om waaksaam te wees.
Pres. Jacob Zuma het in ’n verklaring sy simpatie uitgespreek met die naasbestaandes van die slagoffers en met mense wat dakloos gelaat is.
“Die regering sal alles in sy vermoë doen om lewensverlies te beperk en vra almal se samewerking.”
Die regering het ’n interministeriële komitee (IMK) aangestel wat eergister in Pretoria die eerste keer vergader het om hulpverleningswerk te bestuur in dele van Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap wat tot rampgebiede verklaar is.
In Kakamas het vloedwaters gister sowat 500 m ver die dorp ingestoot. ’n Keerwal wat Donderdag deur boere en noodwerkers gebou is, het meegegee en die pad na Upington – die naaste groot dorp aan Kakamas – is afgesny.
Die polisie moes bontstaan om te keer dat mense deur die water loop wat heuphoogte oor die pad gestroom het. “Mense besef nie hoe sterk die stroom in die middel is nie; hulle kan verdrink.”
Maryna Titus van Lutzburg net buite Kakamas het gesê sy gaan nogtans die polisiebeamptes ontduik en die kans waag om deur die water te loop. “Ek kan nie twee weke wag om inkopies te gaan doen nie.”
Die polisie het later ’n rubberboot begin gebruik om mense oor die vloedwater te karwei.
Druiweboere in die Groen Kalahari het die hele week lank keerwalle gebou om hul druiwe-oeste te beskerm nadat hulle gewaarsku is dat die Oranjerivier ver oor sy walle gaan stoot. Plek-plek het die keerwalle egter gebreek en landerye het oorstroom.
“As jy op een plek wal gooi, breek die water op ’n ander plek deur,” sê Hannes Engelbrecht, ’n druiweboer op Kanoneiland. “Die laagwaterbrûe tussen die eilande verspoel maklik en boere moet weer sand gooi om te keer dat dít inval.”
Engelbrecht het ses gesinne op sy plaas vroegtydig ontruim.
Strys Strauss, ’n landboutegnikus, sê boere gaan groot skade ly omdat hul druiwe op die wingerd gaan vrot. “Plaaswerkers kan nie oes nie, want die water is te hoog.”
Selby Bokaba, woordvoerder van die minister van landbou, sê die oorstroomde landbougebiede word besoek. “Dit is onmoontlik om nou al die skade te bepaal as jy nie eens die grond kan sien nie.”
Die suur mynwater onder Johannesburg en Boksburg styg die laaste tyd met sowat ’n meter per dag weens die swaar reën.
“Die mynwater behoort nou binne 90 dae in die Cinderellameer in Boksburg uit te vloei, en binne nege tot tien maande sal dit ook by Gold Reef City bo straatvlak begin uitloop,” sê prof. Anthony Turton, akademikus en waterspesialis.
Treine tussen Port Elizabeth en Johannesburg moes Saterdag gekanselleer word nadat ’n treinbrug in die Oos-Kaap ineengestort het. Die passasiers word nou met busse vervoer.
Gemeenskappe kan vloedskade by 012 336 5742 aanmeld.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport