Deel van baba se hart buite haar lyfie
2010-01-13 07:55
Susan Cilliers
Johannesburg – ’n Baba is verlede week met ’n seldsame probleem gebore – ’n gedeelte van haar hart is buite haar borskas.
Klein Ashleigh-Karin Louw is gebore met Pentalogie van Cantrell, ’n ontwikkelingsafwyking wat volgens die webwerf thefetus.net 14 tot 18 dae ná konsepsie ontstaan. Haar toestand is kritiek, maar stabiel, het dr. Reenu Thomas, een van die pediaters by die Baragwanath-hospitaal in Soweto wat haar behandel, Dinsdag gesê.
Ashleigh-Karin se ontwikkelingsafwyking behels abnormaliteite in die borsbeen, maagwand, diafragma en hart self, het Thomas verduidelik. Die ingewande kan ook deur die misvormde maagwand stoot.
“Die prognose hang van elke individuele geval af. Ashleigh-Karin is nog te klein vir ’n hartoperasie, maar die stukkie hart wat uitsteek, sal teruggedruk moet word.
“Sy sal ook verskeie operasies moet kry om die hartabnormaliteite te herstel – sodra sy genoeg gewig opgetel het,” het Thomas gesê.
’n Gedeelte van Ashleigh-Karin se ingewande druk ook deur haar maagwand. Dis op die foto hierby sigbaar as die donkerder gedeelte onder die ligter gedeelte op Ashleigh-Karin se borskas.
Die ligter gedeelte is die onderste punt van haar hart wat uitsteek, maar met vel bedek is.
Sy sê Ashleigh-Karin se ingewande sal ook in haar buik teruggedruk moet word en dat dié operasie heel moontlik gouer as die hartoperasie gedoen sal kan word.
“Sy absorbeer haar voeding nou goed. Ons kon haar intussen ook van die ventilator speen, maar sy kry steeds suurstof. Sy is egter steeds baie kwesbaar.”
Mev. Anastacia Louw en haar man, Donovan, is feitlik pal in Baragwanath se neonatale waakeenheid waar hul dogtertjie waarskynlik onbepaald versorg sal word totdat sy sterk genoeg is vir ’n hartoperasie.
Die Louw-egpaar van Eldoradopark, suid van Johannesburg, het drie ander kinders. Ander familielede help nou na hulle omsien.
Thomas sê dis ook die eerste keer dat sy dié uiters seldsame ontwikkelingsafwyking eerstehands beleef.
“Net die tyd sal leer wat Ashleigh-Karin se prognose is. Babas met haar toestand is al geopereer en het al oorleef.”
- Volksblad