Debakel in lugmag eis 2 hoës
2011-11-04 07:08
Die sekretaris van verdediging en die hoof van die lugmag het albei hul bedanking ingedien weens probleme met gehuurde vliegtuie en die gebruik van huursoldaat-vlieëniers.
Pres. Jacob Zuma is blykbaar onlangs na die VSA gevlieg deur vlieëniers wat betrokke was in die mislukte staatsgreep in 2004 in Ekwatoriaal-Guinee.
Mpumi Mpofu, wat skaars twee jaar in die pos van verdedigingsekretaris gedien het, het die departement twee weke gelede reeds verlaat nadat sy summier bedank het.
Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het die bedanking gistermiddag bevestig.
Lt.genl. Carlo Gagiano, lugmaghoof, het ook sy bedanking ingedien, maar volgens Mabaya het Sisulu dit nog nie aanvaar of verwerp nie.
Die druppel wat die emmer laat oorloop het, was glo dat adj.pres. Kgalema Motlanthe sowat twee weke gelede weens tegniese probleme met ’n huurvliegtuig nie betyds van Suid-Afrika op ’n reis na Skandinawië kon vlieg nie. Hy het met ’n kommersiële lugdiens gevlieg, terwyl ’n tweede vliegtuig inderhaas agterna is om die res van die reis te behartig.
Afgesien van dié tameletjie was Sisulu glo woedend toe sy ná ’n onlangse huurvlug van Zuma na die Verenigde Nasies (VN) in New York uitgevind het twee van die vlieëniers was betrokke in 2004 se staatsgreeppoging in Ekwatoriaal-Guinee. Hulle het tronkstraf daarvoor uitgedien.
Hoewel Mabaya geen redes vir Mpofu se bedanking wou verskaf nie omdat dit “’n vertroulike saak is”, het hy wel bevestig dat Sisulu geweldig gefrustreerd is oor die gesloer om nuwe BBP-vliegtuie vir die lugmag te koop.
“Die betrokke tydperk was weens die vliegtuigprobleme vir almal moeilik. Die minister het nie Gagiano se bedanking aanvaar nie omdat sy gemeen het hy moet eers rustig raak oor dié baie stresvolle toedrag van sake,” het Mabaya gesê.
“Dit is frustrerend om te weet die geld is beskikbaar gestel om vliegtuie vir die behoorlike lugvervoer van ons president en adjunkpresident aan te koop, maar dat daar gereeld ’n probleem met die staat se aanskaffingsprosedures opduik.”
Beeld verstaan dat Mpofu en Gagiano vir die hele debakel geblameer is, waarna albei bedank het. Volgens Mabaya het Sisulu wel Mpofu se bedanking aanvaar.
“Die minister wil geen hooggeplaastes se lewe in gevaar stel met verdagte vliegtuie of vlieëniers nie.”
Die gesloer met die aankoop van die vliegtuie duur al meer as ’n jaar en het al selfs in die hooggeregshof in Pretoria gedraai.
Die kontrak is aanvanklik in ’n rekordtydperk aan ’n maatskappy met ’n moedermaatskappy in Nigerië toegeken.
Dié maatskappy is onlangs hof toe omdat hy gemeen het die departement sloer met die kontrak nadat twee stralers reeds bestel is.
Die departement van verdediging het toe aangevoer daar is sowel ’n korttermynplan vir verligting as een vir die lang termyn.
Sover bekend is geen vliegtuie vir enige van die twee planne nog gefinaliseer nie.
Die presidensiële straler, Inkwazi, is onlangs vir ’n groot diens onttrek en sal twee maande lank op die grond wees. Dít het die lugmag genoodsaak om ook van huurvlugte vir Zuma gebruik te maak, waaronder die een na die VSA.
Mziwonke Dlabantu, senior finansiële amptenaar van die departement, neem as sekretaris waar, het Mabaya gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld