De la Rey gaan Tukkies lei
2009-07-28 08:41
Die Universiteit van Pretoria (UP) het ’n nuwe rektor. Dr. Cheryl de la Rey (47) is die eerste vrou in dié pos.
Die universiteitsraad het haar gistermiddag uit ’n uitgelese groep kandidate aangewys om die leisels by prof. Calie Pistorius oor te neem.
De la Rey is sedert Mei verlede jaar uitvoerende hoof van die Raad op Hoër Onderwys, wat gehalteversekering van kursusse doen en universiteite oor assessering en kursusse raad gee.
Die UP het in ’n verklaring gesê De la Rey sal op ’n later datum waarop sy en die universiteit sal ooreenkom, diens aanvaar.
“Die UP is trots op haar akademiese prestasies en beskou haar as iemand wat brûe bou en goeie menseverhoudings handhaaf. Sy word ook bestempel as iemand wat diepgaande kennis en strategiese begrip van die tersiêre sektor het. Sy het ’n uitstekende geskiedenis as akademikus: Sy is hardwerkend en professioneel en het gesonde verhoudings met mense,” lui die verklaring.
De la Rey het aan die destydse Universiteit van Natal in Durban gestudeer en haar doktorsgraad, met ’n tesis getiteld “Career narratives of women professors in South Africa”, aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal.
Sy was jare lank ’n onderwyser en sielkundedosent en later adjunk-visekanselier van die UK.
Daar was aanvanklik 13 kandidate vir die rektorspos. Ander gunstelinge was proff. Derek van der Merwe, pro-visekanselier van die Universiteit van Johannesburg (UJ); Carolina Koornhof, dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe by die UP; en Antony Melck, adviseur tot die rektor van UP en voormalige rektor van Unisa.
De la Rey het alle navrae na die UP verwys.
In ’n verklaring van voorneme wat haar aansoek vir die pos vergesel het, het sy gesê om die toekoms van die UP te skep is ’n opwindende leierskapsgeleentheid.
“Die UP is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se top-universiteite. Met visioenêre en sterk leierskap, tesame met doeltreffende strategieë en goeie bestuur, kan dit Suid-Afrika se voorste universiteit met ’n sterk internasionale reputasie vir gehalte-onderrig, -navorsing en betrokkenheid wees,” het sy luidens dié verklaring gesê.
Voorts is die universiteit in ’n goeie geldelike toestand. Die universiteit het ook ’n strategiese voordeel met sy ligging ten opsigte van die sakesektor, die regering en die diplomatieke spilpunt van die land.
Onderwyskenners het by navraag gesê groot uitdagings wag op haar. Een daarvan is om uiting te gee aan die verwagting van verskeie belangegroepe vir die handhawing en uitbouing van Afrikaans as akademiese taal.
- Beeld