De Lille word glo nie DA se nasionale voorsitter
2010-06-27 13:43
Kaapstad - Gerugte loop dik in DA-geledere dat die OD-leier, mev. Patricia de
Lille, nie meer volgende maand die DA se nasionale voorsitter gaan word
nie.
Na verneem word is daar twee redes voor.
Eerstens vat
dit baie langer om die OD as party se deure te sluit as wat enigeen
verwag het, en behoort die proses nie teen die tyd van die DA-kongres
afgehandel te wees nie.
Tweedens wil De Lille nie as ’n nuweling
deur onderlinge konsensus in die posisie geplaas word dat dit na ’n
beloning lyk nie.
“Sy wil nie soos ’n Marthinus van
Schalkwyk-figuur oorkom nie,” is aan Rapport gesê.
Dit lyk nie of
die vertraging beteken dat die ineenvloei van die DA en minstens die
grootste deel van die OD van die baan is nie. Dit neem bloot langer as
verwag.
De Lille was nie gister vir kommentaar beskikbaar nie.
Intussen
is die jag nou oop vir die posisie van nasionale voorsitter. Tans word
drie prominente DA-lede se name genoem.
Dr. Wilmot James, wat
deur baie as die voorste brein in die parlementêre koukus beskou word,
blyk bereid te wees om te staan as daar aanduidings van groot steun is.
Mnr.
Joe Seremane, huidige nasionale voorsitter, is na verneem word van plan
om soos in 2007 weer sy naam in die hoed te gooi.
Die derde
naam wat genoem word, is die van mnr. John Moodey, voormalige Gautengse
leier van die party.
- Rapport
- Rapport