De Lille vlek skandaal oop
2010-01-22 09:02
Rajaa Azzakani
Kaapstad - Patricia de Lille, OD-leier, het besluit om die parlementêre reisskandaal tot op die been oop te vlek nadat sy agtergekom het dat een van haar eie LP’s dié stelsel uitbuit.
De Lille het bevind dat een van die party se vyf LP’s van die Noord-Kaap, wie se naam aan Die Burger bekend is, verkies om na sy kiesafdeling te ry eerder as om te vlieg.
“Ek het onmiddellik ’n stokkie hiervoor gesteek. OD-LP’s moet nou eers so ’n versoek aan die koukus stuur.”
In teenstelling met die OD het die ANC nie ’n benul van sy parlementslede (LP’s) se reisvoorkeure nie. Moloto Mothapo, woordvoerder van die ANC-koukus, het gesê: “Die reisreëlings en eise is ’n saak tussen elke LP en die parlement.”
Op hul beurt ontken die DA en die IVP dat die praktyk onder hul lede bestaan.
Vir ’n padrit tussen Kaapstad en Johannesburg mag LP’s R12 600 eis, terwyl ’n retoer-vliegkaartjie die parlement R4 300 kos. De Lille meen LP’s kan op dié manier hul salarisse met tussen R30 000 en R40 000 per maand aanvul.
Die handboek vir lede bepaal dat LP’s mag kies tussen ’n reis per lug, pad of spoor. Dit is egter net wanneer hulle per pad of spoor reis, dat die parlement verplig is om hulle te vergoed.
De Lille het haar verlede jaar tot Max Sisulu, speaker van die parlement, gewend vir ’n uiteensetting van alle reis- en verblyfeise deur LP’s. Hy het haar na die gesamentlike reëlskomitee verwys en gesê sy moet haar andersins beroep op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Sy het vir oulaas ’n parlementêre vraag aan Pravin Gordhan, minister van finansies, hieroor ingedien.
Sisulu se kantoor het Donderdag aangedui dat hy nie kommentaar gaan lewer nie en sal wag vir die prosesse om hul gang te gaan.
Mothapo het gesê eise word direk aan die parlement gerig en anders as die kleiner partye, is dit onmoontlik vir die ANC om tred te hou met die reisvoorkeure van sy 299 LP’s (in die nasionale vergadering asook die nasionale raad van provinsies).
Sandy Kalyan, DA-LP en hoofsweep belas met ledefasiliteite, het gesê dié party het hul “rekeninge” nagegaan.
Koos van der Merwe, IVP-hoofsweep, het gesê dié party se LP’s ry gemiddeld een keer per jaar tussen die parlement en hul kiesafdeling. “Verder vlieg ons.”
- Die Burger