De Lille praat oor suster se gru-moord
2013-02-28 09:55
Kaapstad – Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, het in 'n koerant-onderhoud onthul hoe haar suster in 1997 op 'n gruwelike wyse verkrag en vermoor is, het Sapa Donderdag berig.
De Lille het aan die Daily Voice-koerant gesê haar suster, Laetitia Lindt, is op 16 Junie, 16 jaar gelede 42 keer met 'n mes gesteek, 11 keer met 'n byl op haar kop geslaan en vermink.
Sy is in 'n oop stuk veld in Walacedene, 'n informele nedersetting sowat 40 km buite Kaapstad, vir dood gelaat en haar liggaam is die volgende oggend deur 'n boer gevind.
Charl Robertson en Ricardo Solomons is in hegtenis geneem en albei tot 30 jaar tronkstraf vir die moord en verkragting gevonnis.
Solomons is onlangs vrygelaat nadat hy die helfte van sy tronkstraf voltooi het.
Dié voorval is soortgelyk aan die verkragting, verminking en moord van die Bredasdorp-tiener Anene Booysen vroeër vandeesmaand.
De Lille het gesê sy is steeds besig om haar suster se moord te verwerk.
"Die geweld teen vroue en kinders is niks nuuts nie. Dit is 'n lang stryd wat ons die heeltyd moet veg," het De Lille aan die koerant gesê.
Sy het gesê die onthulling is deel van 'n skuif om by die stryd teen die "oorlog op vroue" aan te sluit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA