De Lille nou provinsiale minister
2010-09-04 04:10
Kaapstad - Patricia de Lille, OD-leier, sal by die Wes-Kaapse regering aansluit as minister van maatskaplike ontwikkeling, het Hellen Zille, premier van die Wes-Kaap, Vrydag gesê.
Zille het tydens ‘n perskonferensie aan joernaliste gesê dat De Lille die plek van Ivan Meyer sal inneem.
“Die goeie nuus is dat Patricia de Lille by die kabinet in die Wes-Kaap sal aansluit as provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling,” het Zille gesê.
De Lille moet eers as ’n lid van die provinsiale wetgewer (MPL) ingelyf word alvorens sy as minister in die provinsiale regering ingelyf kan word.
Volgens De Lille is dit vir haar ‘n eer om die rol van provinisiale minister te aanvaar.
“Maatskaplike ontwikkeling is my passie. Reeds vir 24 jaar veg ek vir die armes en minderbevoorregtes. Jy sal my nie in ‘n kantoor vind nie, ek sal daar buite wees om die kwessies trompop aan te pak,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA