De Lille kan top-pos in die Wes-Kaap beklee
2010-08-15 09:53
Kaapstad - Daar is ’n baie sterk mening
in die DA dat Patricia de Lille, OD-leier, ’n Wes-Kaapse LUR moet
wees noudat sy ’n DA-lid word.
“Sy is ’n baie sterk leier met gawes wat tot die beste
voordeel van die bevolking aangewend moet word,” het ’n sleutelleier
van die DA aan Rapport gesê.
De Lille het gister in Kempton Park die nodige
memorandum van verstandhouding met Helen Zille, DA-leier,
onderteken om die OD met die DA te laat saamsmelt.
De Lille is self blykbaar nog nie oortuig dat sy ’n
LUR moet word nie en wil beslis nie hê so ’n “Kortbroek-klousule” moet
deel van die eenwordingsproses wees nie.
Haar onmiddellike toekoms sal onveranderd as parlementslid wees.
Die DA se federale raad vergader vanoggend om die nodige veranderings vir die eenwording aan die party se grondwet aan te bring.
Na verwagting sal die memorandum behels dat die OD
se lede verkieslik by die DA moet aansluit en dit wil voorkom asof
werknemers van die OD hul betrekkings sal behou.
As OD-lede deel wil uitmaak van die nominasieproses
om as DA-kandidate in volgende jaar se plaaslikeregering-verkiesings te
staan moet hulle redelik gou maak, want die proses begin oor ongeveer
’n maand.
Omdat die wet nie meer voorsiening maak vir
oorlopery deur stadsraadslede, parlementslede en lede van provinsiale
wetgewers nie, sal diesulkes dubbele lidmaatskap van die OD en die DA
toegelaat word. OD-stadsraadslede sal dus as OD-lede bly dien tot
volgende jaar en LP’s en LPW’s sal as OD-lede bly dien tot in 2014.
Nóg Zille, nóg De Lille was vir kommentaar beskikbaar