De Lille 'is 'n veilige keuse vir Moederstad'
2011-03-15 08:36
Kaapstad - Die keuse van Patricia de Lille as die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad is Maandag allerweë deur ontleders en sekere senior DA-lede as “’n veilige keuse” bestempel.
Helen Zille, DA-leier, het Maandag met die aankondiging gesê al vier die kandidate het ’n streng proses ondergaan. “Slegs een mens kon as oorwinnaar uit die stryd tree en dit is Patricia de Lille.”
De Lille, OD-leier, het glo ’n “gemaklike” oorwinning behaal oor die ander drie kandidate, Dan Plato, huidige burgemeester, Grant Pascoe, burgemeesterskomiteelid vir maatskaplike dienste, en Shehaam Simms, burgemeesterskomiteelid vir behuising.
Die DA wou nie uitwei oor die getal stemme wat elke kandidaat gekry het nie, maar Die Burger het van lede van die kiespaneel verneem De Lille se hoop stembriefies was veel hoër as die ander kandidate s’n.
Zille het bevestig De Lille het reeds die vereiste 50 plus een stem in die eerste kiesronde gekry.
Sy het bespiegelings verwerp dat De Lille se kandidatuur ’n gegewe was en gesê die verkiesingsproses was vry en regverdig.
Volgens Justin Sylvester, politieke navorser van Idasa, is De Lille die beste keuse omdat sy nie veel skade kan aanrig, soos om stemme vir die DA te verloor nie, maar wel stemme kan trek.
“Moet egter nie skouspelagtige verwikkelings verwag nie, want dit was nog altyd moeilik om ’n volstrekte meerderheid in Kaapstad te wen.”
Volgens Sylvester kan die moontlike benoeming van Tony Ehrenreich, Cosatu se provinsiale sekretaris, as ANC-burgemeesterskandidaat die verkiesingslandskap verander en dit selfs nóg moeiliker maak vir De Lille, aangesien hulle albei steun onder die werkersklas het.
- Die Burger