De Lille gee redes hoekom stad onderbestee
2011-07-28 08:00
Kaapstad – Daar word nie verskoning gevra nie, slegs verduidelik waarom die Kaapse stadsraad in die afgelope boekjaar R1,1 miljard wat vir kapitale projekte begroot was nie bestee het nie.
Só het Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, gister op ’n raadsvergadering gesê oor waarom die stadsraad in die 2010/2011-boekjaar net 71,5% van sy kapitale begroting bestee het.
Sy het gesê die geld wat nie bestee is nie word na die huidige boekjaar oorgeplaas.
“Ongelukkig werk dit so in die werklike lewe van dienslewering dat daar faktore buite ons beheer is wat ’n invloed op besteding het. Ons verantwoordelikheid is nou om te verseker dat die risiko’s verminder word en dat ons ’n teiken van hoër as 80% vir die huidige boekjaar stel.”
De Lille het agt redes vir die swak besteding gegee.
– Die nasionale regering het R168 miljoen wat vir die snelvervoer-busdiens geoormerk was laat oorgeplaas;
– Meer as R270 miljoen is op die Kaapstad-stadion bespaar;
– Besteding van R100 miljoen is gekortwiek deur ’n hofuitspraak wat die deur oopgemaak het vir allerlei appèlaansoeke teen toegekende tenders;
– Die tsoenami in Japan het die aflewering van toerusting vertraag;
– Daar is ’n tekort aan teer in die Wes-Kaap;
– Die projek om die Lotusrivier op te knap is vertraag terwyl mense van die plakkersbuurt weier om te trek;
– Die nie-motoriese vervoerprojekte is vertraag omdat die proses van openbare deelname langer geduur het as wat verwag is;
– en Grond kon weens uitgerekte onderhandelings nie maklik vir projekte verkry word nie.
Tony Ehrenreich, leier van die ANC in die stadsraad, het gesê daar is ’n groot probleem met agterstande in Kaapstad.
“Ons het hulpbronne beskikbaar en mense wat dit dringend nodig het, maar ons gebruik nie die geld nie,” het hy gesê.
Ehrenreich het gesê die stadsraad het ook die kans laat verbygaan om ’n beskikbare R3 miljard te leen en dit aan dienslewering te bestee.
De Lille het bygevoeg dat dienslewering nié deur die onderbesteding belemmer is nie, omdat dit hoofsaaklik in die vervoerafdeling was en die geld steeds vir die vervoerprojekte beskikbaar is.
Xolani Sotashe, ANC-hoofsweep, het gesê die stadsraad het R1,1 miljard van ’n begroting van R3,9 miljard nie gebruik nie. “Dit is baie geld. Daar kan nie net gesê word dat 71,5% wel bestee is nie. Die prentjie moenie meer romanties aangebied word as wat dit is nie.”
Sotashe het bygevoeg dat De Lille met die vorige raadsvergadering gesê het die besteding behoort 85% te wees.
Hierop het De Lille geantwoord dat sy en Ian Neilson, onderburgemeester, daarna verwys het dat ’n teiken van 85% bereik kan word omdat die stadsbestuurder en administrasie dié vooruitskatting gemaak het.
“Nou, aan die einde, is die somme gemaak en dit is 71,5%. Ek is baie teleurgesteld,” het sy erken.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger