De Lille ‘een van bestes’
2010-09-04 06:25
Die Burger
Kaapstad – Patricia de Lille is nou amptelik Wes-Kapenaars se nuwe minister van maatskaplike ontwikkeling.
Terwyl sy na die provinsie se welsyn gaan omsien, is adv. Lennit Max, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, op pad na die nasionale parlement.
Albert Fritz neem by hom oor as provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid. Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het dié aankondiging Vrydag op ’n nuuskonferensie gedoen.
“Ek is absoluut verheug met die chromosoom-samestelling van die provinsiale kabinet, maar ek kan julle verseker die X-chromosoom het niks te doen met die aanstelling van De Lille nie.”
Zille is gevra of sy ’n swart vrou aangestel het in reaksie op kritiek oor haar kabinet, wat net uit mans bestaan.
Sy het gesê vir haar gaan dit oor die skep van meer diversiteit, maar ook omdat De Lille, wat ’n lang struggle-rekord het, “een van die beste mense is vir die pos”.
De Lille sal as minister van maatskaplike ontwikkeling by dr. Ivan Meyer oorneem, wat nou die provinsiale departement van kultuur, sport en ontspanning en buitelandse aangeleenthede sal lei.
Sakkie Jenner, wat voorheen in die pos was, word ’n gewone LPP en voorsitter van een van die komitees in die provinsiale parlement. Zille het Jenner se instemming tot dié verwikkeling as ’n “groot gebaar” bestempel.
Sy het gesê Max is die opsie gebied om ’n pos as LP te aanvaar en hy het ingestem.
“Ingevolge die Grondwet besluit ek na my eie oordeel wie in my kabinet dien. Dit gaan nie oor ’n industriële verhoudingsproses waar sekere stappe gevolg moet word nie. Ek was al deur ’n paar kabinetskommelings en nêrens hoef ’n premier of die president redes te gee vir ’n besluit nie.”
Sy is gevra of die kabinetspos vir De Lille deel was van die besprekings voor die OD-leier haar party se gewig agter die DA ingegooi het.
“Sy het reeds vir belangrike poste (binne die DA) nee gesê, so posisies was en is nie ’n kwessie nie. Sy het na ons toe gekom met geen posisie en geen belofte van ’n posisie nie,” het Zille geantwoord.
De Lille het gesê die aanstelling is ’n eer. Sy het ook gesê haar suster, Sarah Paulse, OD-LPP, gaan parlement toe as LP en Joseph Mcgluwa, OD-LPP, word die leier van die OD in die parlement.
- Die Burger