De Lille, Zille het 6 maande vir praat oor saamwees
2010-03-21 13:29
Kaapstad - Die nasionale konferensie van die Onafhanklike
Demokrate (OD) het die party se leierskap gister die mandaat gegee om
enige nodige samewerkingsooreenkomste met ander partye binne ses maande
af te handel.
Dié resolusie, wat gister in Kaapstad deur sowat
350 afgevaardigdes van oor die land aanvaar is, vereis nie dat die OD se
lidmaatskap enige nuwe ooreenkoms moet goedkeur nie; bloot dat dit aan
lede oorgedra moet word.
Mev. Patricia de Lille, OD-leier, het
gister gesê die byeenkoms is ’n belangrike verwikkeling in die
herskikking van die Suid-Afrikaanse opposisiepolitiek.
Sy het
gesê die onderhandelinge tussen die OD en DA vorder goed, asook die
afsonderlike onderhandelinge tussen die OD, Cope en UDM.
Zille,
asook mnr. Mosiuoa Lekota (Cope-leier) en prof. Ntopile Kganyago,
onderleier van die UDM, het die OD-lede toegespreek, en almal is ewe gul
ontvang.
’n Videoboodskap waarin die oudrektor van die
Universiteit van Kaapstad, dr. Mamphela Ramphele, ’n sterker en meer
verenigde opposisie bepleit het, is vertoon.
Zille het gesê die
Grondwet was nog nooit so in gevaar soos nou nie, met ’n ANC wat die
hele tyd baklei – nie oor beginsels of beleid nie, maar oor verryking en
tenders.
Sy het De Lille lof toegeswaai vir haar stryd teen
korrupsie, en gesê hoewel verskille bestaan, is daar heelwat meer wat
die partye saambind as skei.
Lekota het gevra vir nierassige
politiek, en dat al die land se goeie mense, ongeag kleur, in die
opposisie sal byeenkom. Hy het ’n vergadering van alle opposisieleiers
gevra.
Kganyago het uitgewys die UDM was nog altyd ten gunste van
samewerking deur die opposisie, en het gesê die party sal later vanjaar
op sy nasionale kongres oor die proses daarvoor besin.
-
Rapport