De Kock-kwytskelding dalk sluier vir Shaik
2010-01-10 08:10
Jan-Jan Joubert
In ruil vir presidensiële kwytskelding sal die apartheidsmisdadiger Eugene de Kock die staat moet help om regses te beveg, en nuwe inligting verskaf sodat politici uit die apartheidsera vervolg kan word.
De Kock se vryskelding sal aangebied word as ’n “versoeningsgebaar” jeens Afrikaners, en kan saamval met kwytskelding vir die bedrieër Schabir Shaik en IVP-ondersteuners wat weens ’n verskeidenheid misdade in die tronk sit.
Die regering doen tans alles moontlik om die groeiende aanduidings van kwytskelding te versluier. Rapport onthul dat:
- Die regering en De Kock-ondersteuners al jare lank oor kwytskelding onderhandel, ook oor De Kock se “teenprestasie”;
- Die regering De Kock se kennis oor die mentaliteit, werking, insypeling en bevegting van onwettige moordbendes, soos regses of Moslem-ekstremiste, wil bekom en glo reeds gebruik het (ekstreme regse groepe haat De Kock hieroor);
- ’n Groep in die ANC De Kock se vryskelding teenstaan weens die wreedheid van die moorde waarvoor hy 212 jaar tronkstraf uitdien;
- Dié harde ANC-kern gepaai sal word met ondernemings dat De Kock apartheidspolitici sal uitwys wat dan strafregtelik vervolg sal word. Hiertoe is De Kock bereid;
- Zuma die De Kock-kwytskelding sal aanbied as versoeningsgebaar jeens Afrikaners. Afrikaanse vertrouelinge verseker hom “as jy De Kock vrylaat, sal die Afrikaners jou toejuig, al laat jy Shaik vry”;
- Zuma van die meer as 300 Inkatha-ondersteuners wat hulle as politieke gevangenes voorhou, sal kwytskeld en só verdere steun onder die IVP sal wen en verdere aandag van Shaik aflei;
- Daar sterker teenstand in ANC-geledere teen IVP-kwytskeldings is as teen De Kock s’n; en
- Zuma sy vriend Shaik, wat geensins terminaal siek is nie, in die harwar sal kwytskeld.
Mnr. Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, wil nie bevestig of ontken dat Zuma De Kock persoonlik in 2009 ontmoet het nie. Vertrouelinge van De Kock sê hulle is onbewus van ’n ontmoeting, maar dit is bepaald moontlik.
Drie aspekte kan kwytskeldings vertraag:
- Die konstitusionele hof moet nog uitspraak lewer oor of slagoffers geraadpleeg moet word voor kwytskelding;
- Sommige kwytskeldings sal moeilik voldoen aan die justisie-riglyne; en
- Die politieke gevolge, met die DA en Cope wat kan munt slaan uit groeiende indrukke dat Zuma ’n politieke opportunis is wat sy vriende bevoordeel.
Die presidensie se reguitste antwoord oor kwytskelding is om die proses te beskryf, te verklaar dat daar geen tydraamwerk is nie en dat geen besluit nog geneem is nie.
Agter die skerms word erken die kwessie is so sensitief dat dit selfs kan ontspoor, maar dat die fondament vir kwytskelding gevestig is.
Rapport se redakteur sê:
Nie in ons naam nie
Die groeiende aanduidings dat die regering ’n presidensiële kwytskelding vir die moordenaar Eugene de Kock as versoeningsgebaar teenoor Afrikaners wil verpak, is ’n belediging vir Afrikaners.
De Kock se dade was walglik en alle ordentlike Afrikaners distansieer hulle daarvan. Rapport, verreweg die grootste Afrikaanse koerant, doen dit nogmaals.
As pres. Jacob Zuma sy prerogatief wil gebruik om De Kock om taktiese redes vry te laat, of om politieke punte aan te teken, of om sy “kundigheid” aan te wend, is dit vir sy eie morele rekening.
Indien die staatshoof egter sulke gedrag oor die boeg van versoening wil gooi, skep hy vir die Afrikaner ’n nuwe Kainsmerk.
Ons kan hom nie keer nie, maar ons sê dit so sterk as wat ons kan, op ons voorblad: Dit sal ’n gebaar van verwerplike politieke opportunisme wees wat nie as versoeningsgebaar verkoop moet word nie. Nie aan ons nie. Nie in ons naam nie.
- Rapport