'De Kock is ’n slagoffer van die verlede'
2010-01-25 06:33
Politieke redaksie
Kaapstad - Laat Eugene de Kock, voormalige bevelvoerder van die polisie se Vlakplaas-eenheid, vry. Hy is ’n slagoffer van die verlede en moet, net soos ander politieke gevangenes, ’n kans op lewe kry.
Dít is die mening van drie prominente lede van die vorige bedeling se veiligheidsmasjinerie. Hulle is as deel van ’n peiling saam met tientalle ander meningsvormers en prominente Suid-Afrikaners oor De Kock se verwagte presidensiële begenadiging gepols.
Dit volg nadat dit bekend geword het pres. Jacob Zuma het in April verlede jaar in ’n ontmoeting met De Kock aangedui hy sal só ’n begenadiging gunstig oorweeg. Hoewel Zuma skynbaar nog nie ’n besluit geneem het nie, het bronne gesê De Kock kan binne twee weke tot ’n maand uit die Sentrale Gevangenis in Pretoria vrygelaat word.
Adriaan Vlok, wat as minister van wet en orde die politieke hoof van die Vlakplaas-eenheid was, genl. Johan van der Merwe, destydse polisiekommissaris, en Dirk Coetzee, ’n voorganger van De Kock by Vlakplaas, meen almal De Kock moet vrygelaat word.
Sowel Vlok en Coetzee het gesê dit kan as deel van ’n groter versoeningsgebaar – waar ander gevangenes wat betoog hul misdade is polities gemotiveer kwytskelding ontvang – gedoen word. Van der Merwe, wat die laaste apartheidsera-polisiehoof was, het gesê De Kock “is ’n slagoffer van die verlede”.
Hoewel sy kwytskeldingsaansoek – wat enkele jare gelede gebring is – uit talle oorde ondersteun word, het verskeie mense by navraag aangedui hy verdien nie om vrygelaat te word nie.
Dít is omdat die Pretoriase hooggeregshof in Oktober 1996 bevind het De Kock – wat destyds deur regter Willem van der Merwe as “wel ter tale en vlug van begrip” beskryf is – het onskuldige mense om die lewe gebring.
Van der Merwe het hom daarvoor twee keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis terwyl hy ’n verdere 212 jaar vir misdade soos poging tot moord, aanranding, bedrog, regsverydeling en die onwettige besit van wapens gekry het.
Hoewel hy later vir sommige van dié misdade amnestie ontvang het, het hy nie kwytskelding gekry vir die moorde wat tot sy lewenslange vonnis gelei het nie. Talle mense, onder wie die voormalige Vrye Weekblad-redakteur Max du Preez en die historikus prof. Hermann Giliomee, het gesê De Kock sit dus nie weens die politieke misdade in die tronk nie, maar weens gewone misdadige oortredings.
De Kock self het luidens die verslag van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gesê die feit dat hy en geen senior bevelvoerders nie in aanhouding is, “laat dit lyk of ek die enigste was wat teen die ANC baklei het”.
Die WVK het hom wyd lof toegeswaai as grootliks daarvoor verantwoordelik dat die stilswye oor apartheidsmisdade verbreek is.
- Die Burger