De Klerk hoef nie kleinkinders te onderhou
2012-09-27 11:30
Johannesburg – Die stad se hooggeregshof het bevind oudpres. FW de Klerk kan nie vir sy twee kleinkinders se onderhoud aanspreeklik gehou word nie, het ‘n koerant berig.
Beeld berig De Klerk het in Augustus ‘n dringende aansoek by die hof ingedien nadat Nicole Noordien, wat in die proses is om van sy seun, FW de Klerk jr., te skei, hom vir onderhoud gedagvaar het.
Luidens hofstukke wou Noordien R16 569 per maand in onderhoud vir elk van haar twee kinders, Marike (9) en Nikolaa (8), by die oudpresident hê.
Kaapstad se hooggeregshof het reeds in 2009 ’n bevel gemaak dat De Klerk jr. maandeliks R18 000 in onderhoud vir albei kinders betaal.
Regter Frans Kgomo het einde verlede maand in sy uitspraak gesê die wet bepaal dat nie meer as een hofbevel vir onderhoud vir dieselfde kinders gemagtig mag wees nie.
Kgomo het ook genoem dat De Klerk sr. die afgelope drie jaar sonder ’n hofbevel sy kleinkinders se skoolgeld, sowel as onderhoud van R8 000 per kind, betaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA